Diu00E9 jong spelers is reg vir aksie.
Diu00E9 jong spelers is reg vir aksie.

Jeugbemagtiging lê Kalla na aan die hart

Gebruik sokker om misdaad te bekamp
Hy het sy kinderpassie in ’n doelwit omskep om die jeug só besig te hou dat hulle nie tyd het om aan ondeundhede te dink nie.
Frieda Molotho

Johannes Kalla Mpinge glo polisiëring gaan nie net oor die afdwinging van die wet nie, maar ook oor die voorkoming van misdaad nog voor dit sy kloue in die gemeenskap kan inslaan.

Mpinge, wat tans by die Walvisbaai-polisiestasie dien en in Seapoint in Kuisebmond woon, het dit op homself geneem om ’n aktiewe rol te speel in die vorming van die toekoms van die gemeenskap wat hy daagliks bedien. 

As beide ’n wetstoepasser én ’n gemeenskapslid ervaar hy eerstehands die gemeenskaplike uitdagings wat talle jongmense raak, veral ná skool en oor naweke wanneer toesig en gestruktureerde aktiwiteite dikwels beperk is.

“As polisiebeamptes het ons die mandaat om wet en orde te handhaaf, maar om in dieselfde gemeenskap te woon, laat my toe om die werklike uitdagings te sien waarmee ons jongmense elke dag te kampe het,” sê Mpinge.

Volgens hom word baie jongmense op ’n vroeë ouderdom aan gevaarlike invloede soos alkoholmisbruik, dwelmgebruik, boeliegedrag en kriminele bedrywighede blootgestel. Skoolverlating en ledige tyd dryf kinders dikwels na die strate, wat hul kwesbaarheid vir negatiewe portuurdruk verhoog.

Eerder as om net op misdaadvoorvalle te reageer, het Mpinge besluit om op voorkoming te fokus deur geleenthede te skep wat jongmense se tyd en energie positief benut.

  

VOORKOMING DIE ANTWOORD                               

“Ek het besef dat dit nie genoeg is om te wag vir misdaad om te gebeur nie. Ons moet dit voorkom deur ons kinders besig te hou en hulle iets positiefs te gee om op te fokus,” verduidelik hy.

Mpinge gebruik sy persoonlike tyd ná werk en oor naweke om kinders van Kuisebmond bymekaar te bring vir sokker en ander aktiwiteite by ’n oop ruimte agter die ouetehuis. Wat aanvanklik as informele wedstryde tussen buurtkinders begin het, het geleidelik ontwikkel tot georganiseerde oefensessies namate meer jongmense aangesluit het.

“Ek het begin om jongmense ná werk en oor naweke bymekaar te bring omdat ek wou hê hulle moes van die strate afbly. Sokker het die beste manier geword om hulle te verenig,” sê hy.


KLEIN BEGIN, GROOT UITKOMSTE

Hierdie grondvlakpoging het later gegroei tot MK Football Academy FC, ’n inisiatief wat amptelik in 2018 gestig is, met Mpinge as stigter en besturende direkteur.

Die akademie bestaan nou uit verskeie ontwikkelingspanne vir verskillende ouderdomsgroepe, insluitend o.9, o.11, o.13, o.15 en ’n senior span.

“My missie is duidelik: om jongmense weg te hou van alkohol, dwelms, boeliegedrag en ander negatiewe invloede in die strate. Wanneer hulle aktief aan sport deelneem, ontwikkel hulle dissipline en respek.”

Die passie wat Mpinge vandag dryf, het sy oorsprong in die Oshihenge-nedersetting in die Oshakati-Wes-kiesafdeling in die Oshanastreek, waar sy liefde vir sokker op sesjarige ouderdom begin het. Selfs as jong seun het hy leierskap getoon deur sokkertoernooie te reël wat omliggende dorpe byeengebring het.

“Ek was nog altyd lief daarvoor om mense deur sokker bymekaar te bring. Op tienjarige ouderdom het ek my eerste toernooi met slegs N$20 gereël, en die dorpenaars het dit ondersteun,” onthou hy.

Op 15 het hy nog ’n suksesvolle toernooi – die keer met N$150 – aangebied, met spanne van Onendongo, Okamule, Oniimwandi, Othingo, Omeege, Iikuku, Oshadumbala, Oshamale, Uuthilindindi, Oshikolongondjo, Ompundja en Okamahalelwa wat deelgeneem het.


BALANS

“Diegene wat saam met my grootgeword het, ken my as Kalla Mpinge. Ek was destyds aktief in gemeenskapsbyeenkomste en ek is vandag nog dieselfde persoon,” sê hy.

Ten spyte van sy veeleisende polisiepligte, bly Mpinge toegewyd om jongmense deur MK Football Academy FC te mentor. Die volhoubaarheid en uitbreiding van die inisiatief kom egter met uitdagings, veral die tekort aan noodsaaklike sporttoerusting.

“Ek doen ’n beroep op die gemeenskap en die sakegemeenskap om te help met sokkerballe, uitrustings, oefenbaadjies en ander materiaal sodat ons hierdie inisiatief kan uitbrei en nog meer jongmense kan bereik.”

Mpinge glo die veiligheid van die gemeenskap begin lank voordat misdaad plaasvind en dat die belegging in jeugontwikkeling een van die doeltreffendste strategieë is om misdaad te voorkom.

“As ons ons jeug vandag lei en besig hou, sal ons môre veiliger gemeenskappe bou.

“Vir my verteenwoordig die sokkerveld hoop; ’n plek waar jongmense dissipline, spanwerk en verantwoordelikheid leer. My droom is om ons gemeenskap misdaadvry en veilig vir almal te maak,” sê hy.

Mpinge voeg by dat sy daaglikse werk in misdaadvoorkoming hom motiveer om ook buite sy amptelike pligte ’n verskil te maak. 

“Ek sien elke dag wat in ons strate gebeur. As ’n polisiebeampte kan ek nie net agteroor sit wanneer ek nie aan diens is nie. 

“Ek bestee die meeste van my vrye tyd in oop ruimtes saam met die kinders om hulle deur sokker en positiewe aktiwiteite besig te hou,” sê hy.

Hy staar steeds uitdagings in die gesig weens beperkte hulpbronne, en doen ’n beroep op die sakegemeenskap op Walvisbaai om die inisiatief te ondersteun sodat geleenthede vir jongmense volhoubaar uitgebrei kan word.

Besighede en individue wat bereid is om te help, kan Mpinge kontak by 081 270 8761 of per e-pos by [email protected].

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-04-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer