Su00F3 het Jana von Backstrom haar Kaapstad-fietstoer geu00EBindig. Foto verskaf
Su00F3 het Jana von Backstrom haar Kaapstad-fietstoer geu00EBindig. Foto verskaf

Jana se avontuurrit in Kaapstad

Irene van der Walt

Ek is nie spyt ek het nie ’n medalje gekry nie; ek sien dit as een groot avontuur.

Só vertel die fietsryer Jana von Backstrom, wat die Kaapstad-fietstoer agterop ’n polisiemotorfiets voltooi het.

In ’n mededingende sport soos fietsry, vertel dié Windhoeker, dat daar twee moontlike benaderings tot onverwagse gebeure is.

“Daar is twee kante: Jy kan toelaat dat dit jou appelkar omgooi of jy kan die glas as halfvol sien. Dit is vir my ’n geleentheid waar ek weer die goedheid van mense kon sien.”

Jana sê sy het aanvanklik goed gevaar, maar sowat 13 km voor die eindstreep het sy ’n tegniese terugslag ervaar toe haar fiets se band gebars het.

“Op Suikerbossie-[heuwel] hoor en voel ek iets snaaks terwyl ek trap en ek dink ek het ’n bearing geseize. Ek het egter besluit ons is amper daar en ek sal deurdruk. 

“Net oor Suikerbossie, die afdraande het nog nie begin nie, bars my band en toe het ek besluit ek moet maar begin toon klap met my fiets,” vertel sy.

Die soeke na tegniese ondersteuning het dadels van gekom, maar Jana het wel ’n barmhartige samaritaan gevind.

“Op pad daar by Llandudno is daar die omie met sy kierie wat aanbied dat hy ’n tube by sy huis het, net daar onder in Llandudno en hy sal my help. Die oom loop stadig en ek wonder of ons vandag nog daar gaan kom, maar ek het nie ’n keuse nie.

“Ons stap die ‘Long walk to freedom’, af met die pad, af met die trappe. Gelukkig het die oom sy bakkie onder die trappe parkeer en ons ry na sy huis toe.”

By oom Robert en sy vrou, tannie Rose, se huis, is Jana se fiets se binneband vervang.

“Oom Robert maak plan met ’n tube en ‘bruin boks tape’, want duct tape het hy nie. Tannie Rose maak ’n heerlike koppie koffie. Oom Rob neem my terug pad toe en daar gaat ek stadig op die wilde afdraande. Die wiel vertrou ek min.”

Jana soek toe iemand anders en het ’n polisiebeampte genaamd Cheslin op ’n polisiemotorfiets teëgekom en is agterop hierdie motorfiets met haar eie fiets op die rug tot by die eindstreep.

Nog voor haar avontuur begin het, het Jana hierdie rit by die Kaapstad-fietstoer – voorheen bekend as die Argus – opgedra aan die suster van ’n hoërskoolvriendin, Suzette Schutte, wat tans chemoterapie ondergaan.

Jana is ook betrokke by die liefdadigheidsorganisasie, I Love Boobies en sien uit om hierdie naweek die begin van die Cape Epic aan te pak. Die bergfietswedren van agt dae sal oor 692 km strek met klimwerk van 15 900 m.

By die Cape Epic sal sy as deel van ABSA se inisiatief SheUntamed die Namibiese fietsryer Jacky Shipena ondersteun.

“Die doel is om ’n persoon van kleur op ’n fiets te kry en hulle te ondersteun. Dit is ’n reuse-geleentheid en ’n groot voorreg,” sê Jana.

Jana beskou haarself as ’n “suksesvolle amateur-fietsryer”, maar sê sy is nie gretig om die etiket van ’n professionele fietsryer aan te neem nie. Sy ry fiets sedert sy vier jaar oud is, maar het ongeveer ’n dekade gelede hierdie sport in ’n meer ernstige lig begin sien.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer