Huldeblyktoer vereer wyle Johnny Davids
Die nalatenskap van die geliefde Namibiese en Suid-Afrikaanse musikant, skrywer en sportaanbieder, wyle Johnny Davids sal voortleef deur die Johnny Davids Tribute Show, wat vandeesweek met ’n spesiale toer deur Namibië begin.
Die toer bring vriende en musikante uit Namibië en Suid-Afrika byeen om hulde aan Davids te bring en sy musiek, stem en lewensverhaal met gehore te deel.
Volgens Joe Blom, mede-organiseerder en een van die lede van die gospelmusiekgroep Nu Creation, waarvan Johnny deel was, is dit ’n besonderse voorreg om Johnny se vrou, Liezl, saam met die span in Namibië te verwelkom.
“Dit is ’n absolute eer wat ons aan Johnny betoon. Ons wil graag hê sy nalatenskap moet voortleef,” het Blom gesê en bygevoeg dat die musiek wat Davids agtergelaat het, ’n belangrike rol daarin sal speel.
Liezl het op haar beurt haar dank uitgespreek vir die ondersteuning wat die familie uit Namibië ontvang het nadat haar geliefde man op 16 April in Johannesburg gesterf het.
“Dit is vir ons ’n riem onder die hart as familie om julle ondersteuning te hê,” het sy gesê.
Sy het vertel dat die idee vir die toer ontstaan het ná Johnny se afsterwe, toe familie en vriende in Suid-Afrika byeengekom het om mekaar deur die moeilike tyd te ondersteun.
Die groep het later ’n gedenkdiens vir Johnny op Langstrand gehou, waar hulle besef het dat hulle sy musiek en boodskap verder wil uitdra.
“Ons het ’n besluit gemaak dat Johnny se stem nooit sal stilraak nie. Solank ons lewe, sal Johnny se stem nie stilraak nie,” het Blom gesê.
Die toer skop vandag op Oranjemund af en fokus aanvanklik ook op Rehoboth, Windhoek en Walvisbaai, met die plan om die jaarlikse huldeblyk later na meer dorpe uit te brei.
Die vertoning is egter meer as bloot ’n musiekkonsert. Volgens Blom en Liezl is Johnny se lewensverhaal een van hoop en inspirasie – ’n boodskap wat hulle graag met ander wil deel.
Johnny het bekendheid verwerf nadat hy die sangkompetisie Zing! saam met Vivian Molauly gewen het, voordat hy hom as solo-kunstenaar gevestig het met ’n fokus op Afrikaanse en gospelmusiek.
Johnny het self sy verhaal in sy boek, Boytjie, vertel. Die boek sal ook tydens die toer by die verskeie vertonings beskikbaar wees.
“Daar is soveel mense wat baat kan vind by Johnny se verhaal,” het Liezl gesê.
Sy het verduidelik dat Johnny nie wou hê mense moes hom jammer kry nie, maar eerder hoop moes put uit wat hy bereik het.
Die vertoning neem gehore deur verskillende fases van Johnny se musiekloopbaan. Van sy latere musiek sal ook uitgevoer word, insluitend “Nuwe Naam” en die laaste lied wat hy voor sy dood opgeneem het, “Gee My Weer Lewe”.
Blom sê die doel is dat mense nie dieselfde persoon moet wees wanneer hulle die vertoning verlaat as toe hulle daar aangekom het nie.
“Ons vertrou dat die Here vir jou nuwe moed en nuwe krag gee om môre aan te durf,” het hy gesê.
Die toer is ook ’n viering van Johnny as meer as net ’n musikant en skrywer. Sy werk as sportaanbieder, veral sy betrokkenheid by rugby en krieket, word ook onthou.
Blom het vertel hoe Johnny hom beywer het om aan die wêreld te wys dat iets goeds uit die Walvisbaaise woonbuurt, Narraville, kan kom. Hy het onder meer die plaaslike rugbyspan se sukses aan ’n groter gehoor bekendgestel.
“Die wêreld moet weet wat uit Narraville uitkom. Die wêreld moet weet dat daar iets goed uit Narraville kan kom,” het Blom Johnny se boodskap aangehaal.
“En ons kan vandag getuig dat daar iets goeds uit Narraville uitgekom het, en sy naam is Johnny Davids.”
Die datums van die toer is as volg:
Oranjemund: Vandag om 18:30 by die Rekreasiesentrum.
Rehoboth: Vrydag 4 September om 19:00 by Route 77.
Windhoek: Saterdag 5 September 2026, om 19:00 by die Community Church.
Walvisbaai: Sondag 6 September 2026, om 18:00 by die Walvisbaai Community Church.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie