Heidi en Harley op ’n motorfiets deur Afrika

’n Tweede kans ná lewerkanker
Henriette Lamprecht
Meer as 20 jaar gelede tydens haar swangerskap met haar eerste kind, word galstene by haar ontdek en drie dae ná haar seun se geboorte word besluit om haar galblaas te verwyder.

Die chirurg se kamera beweeg, per ongeluk, agter Heidi van der Merwe se lewer, waar hy kankerselle ontdek en sy gevolglik met primêre lewerkanker gediagnoseer word. Die prognose toe vir lewerkanker was sowat ses maande, maar in haar geval kon dokters tydens ’n operasie van agt uur die kanker verwyder. Haar lewe het sy gang gegaan, sy het weer ma geword en dié keer van tweelingdogters, met kanker wat lankal nie meer deel van haar gedagtes was nie.

Totdat dr. Sanju Sobnach haar uit die bloute bel oor haar kankerselle van 23 jaar gelede wat steeds gestoor word. Sobnach wou weet of dit vir navorsing gebruik kan word, omdat Heidi die enigste vrou was wat hy wêreldwyd kon vind wat lewerkanker tydens swangerskap gehad en oorleef het. Sy is ook die tweede langste “survivor” ooit waarvan medici weet.

Sobnach het verduidelik dat Heidi se T-selle “anders” is en dat dit moontlik die sleutel kan hou om ’n geteikende entstof teen lewerkanker te ontwikkel. Baie navorsing en toetse moet nog gedoen word en die moontlikheid bestaan in teorie dat hierdie selle ander kankers, byvoorbeeld borskanker ook suksesvol sal kan beveg.

“Dit beteken my selle kan moontlik ander mense se selle ‘leer’ hoe om lewerkanker gouer te herken en vinniger teen dit te baklei,” verduidelik Heidi.

Sy het haarself afgevra of sy die lewe lei wat sy werklik wil en die antwoord was “nee”.

“Ek het besluit om dit te verander. Ek het my huis op die mark gesit en besluit om op ’n motorfiets deur die wêreld te reis en om in Australië te begin.”

Sy het haar planne met Sobnach gedeel wat haar aangemoedig het om eerder in Afrika te begin en ’n ambassadeur vir bewusmaking van lewerkanker en die dringende behoefte vir voorkoming te wees.

In Afrika is lewerkanker die kanker wat die lewens van die meeste mans op die vasteland eis, vir vroue die derde meeste. Die leidende oorsake is hepatitis B en C, albei voorkombare en behandelbare siektes.

“Immunisering en vroeë behandeling kan lewerkanker stop voordat dit begin. In Afrika word dit dikwels te laat gediagnoseer wanneer behandeling nie meer moontlik is nie,” verduidelik Heidi.

Heidi erken sy het geen ervaring om op grondpaaie te ry nie, nie met ’n motor of ’n motorfiets nie! Daarom die besluit om haar reis in Namibië te begin om die onbekende eers geleidelik te leer baasraak, vertel sy.

“Namibie het ’n verskeidenheid paaie en die mense praat ook Afrikaans of goeie Engels as ek met permitte ens. vashaak. Die mense weet ek ook uit vorige kuiers is baie hulpvaardig.”

Die aanvanklike idee was om dan deur Zambië na Malawi te reis en van Malawi af noord tot in Egipte, maar haar reisplanne het intussen verander.

“Baie mense in Namibië het my afgeraai om as gevolg van verskeie redes deur Zambië te reis. Ek gaan nou deur Botswana, Zimbabwe en Mosambiek tot in Malawi ry. Ek dink dit is die lekkerste deel van die toer, ek is buigbaar!”

Heidi sal dan moet besluit hoe sy in Morokko gaan kom om weer in die moeiliker westekant van Afrika af te kom.

“Ek hoop om teen daardie tyd genoeg reis- en ryervaring te hê om weer oor ’n jaar veilig in Suid Afrika te wees.”

Harley Davidson Mzansi borg haar motorfiets en Heidi sal die eerste vrou wees wat met ’n Harley Davidson deur Afrika reis.

Haar uitreike vir bewusmaking sal wissel van land tot land, sê Heidi.

In sommige van die Afrikalande sal sy praatjies by klinieke lewer of met gesondheidswerkers kontak maak. By ander sal sy betrokke wees by inentingsveldtogte waartydens sy haar belangrike boodskap kan oordra en soms is dit “sommer net die geselsie by die petrolpomp of in die restaurant wat ’n verskil maak”.

“Ek het kontakbesonderhede van mediese personeel in elke land en probeer voordat ek in ’n land ingaan, meer struktuur aan die besoek gee.”

Sy doen ook bewusmaking vir die niewinsgewende organisasie One Life One Liver wat onder meer fondse bekom vir meer navorsing.

“In Afrika is die navorsing oor lewerkanker baie min. Dit is die kanker waaraan mense tussen 28 en 48 jaar die meeste op die vasteland sterf, dis regtig ontstellend dat daar nie fondse is vir navorsing nie.”

One Life One Liver hoop om meer groot maatskappye bewus van lewerkanker te maak en aan te moedig om in Afrika se toekoms te belê.

“Dit is spesifiek vir lewerkanker en beleggers kan verseker wees fondse word direk vir navorsing aangewend.”

Haar jongste kinders, tweelingdogters van 19 jaar, het verlede jaar met skool klaargemaak en haar seun is 23. “Hulle is baie selfstandig grootgemaak en studeer tans. Ek het besluit dit is nou my beurt om te doen wat ek wil!”

Sy vertel van ’n boek van Henry Todd, The Empty, wat sy gelees het en haar geïnspireer het om soveel as moontlik met haar lewe te doen voordat sy sterf.

“Ek het myself baie lank jammer gekry omdat ek as enkelouer moet sukkel om my kinders groot te maak. Maar, ek het ook skielik besef dat dit eintlik ’n voorreg is om vry te wees en te kan doen wat ek wil vir solank ek wil.”

Sy geniet elke dag in haar reis deur Namibië die land se natuurskoon en om mense te leer ken,” sê Heidi.

“Ek dink ek besef elke dag wat ek ry net meer en meer hoe geseënd ek is met ’n tweede kans in die lewe. Ek beplan om nie eendag te sterf met my ‘beste werk’ in my nie. ‘I want to die empty!’.”

Aangesien haar kinders studeer, het Heidi nie eintlik iewers anders ’n plek gehad vir haar “jongste” nie, daarom dat Harley, ’n Australiese skaaphond en “survivor” net soos sy, al die pad saam met haar ry. Dat Heidi en Harley mekaar moes vind, is duidelik toe sy vertel hoe haar aansoek om hom aan te neem uit 155 as sy nuwe huis gekies is.

“Hy was die ‘runt of the litter’ by ’n baie bekende teler wat hom na ’n veearts geneem het om uitgesit te word. Die veearts wou nie omdat hy ’n gesonde hond was en het gesê hy moet eerder vir aanneming gegee word.

“’n Vriendin het vertel sy het die advertensie gesien en so het ek die gelukkige een geword om Harley te kry om deel van my lewe te wees! Ons twee ‘survivors’ pak Afrika saam aan.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer