Handgemaak met liefde

Oudonderwyseres skep kreatiewe kleuterklere
Santie Kruger het ná 37 jaar in die onderwys afgetree en die gogga om kinderklere te ontwerp en te maak het haar behoorlik gebyt.
Tanja Bause
“Ons was vier dogters en my ma het baie van ons klere self gemaak. Dit was vir my heerlik om haar dop te hou. Hoe sy met die naaldwerkmasjien te werke gaan en hoe sy die klere maak. Later het ek begin om haar te help en dit is beslis waar my liefde begin het vir naaldwerk, skep en kreatief wees,” het Santie Kruger (61), die vrou agter die handgemaakte klere vir kleuters, Poppelops, gesê.

Santie is op ’n plaas net buite Aranos gebore en sy het haar laerskooljare daar deurgebring. Sy het later haar matriek aan die Hoërskool Wennie du Plessis op Gobabis voltooi.

“Aangesien my ouers op ’n plaas gebly het, was ek al die jare maar ’n koshuisbrak. Vakansies op die plaas was egter baie lekker. Buite in die natuur, perdry en die plaaslewe.”

Ná skool het sy onderwys by die destydse Windhoek Onderwyskollege gaan studeer. Sy het ook haar honneursgraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

“Ek het vir 37 jaar ononderbroke skool gehou. Die laaste nege jaar was ek by Windhoek Hoërskool en in die middel van die Covid-19-pandemie het ek bedank en afgetree.”

Santie het al vroeg op skool in atletiek uitgeblink en ook die destydse Suidwes-Afrika (SWA) in atletiek vanaf 1977 tot 1988 verteenwoordig.

“Ek het meesal 400 meter gehardloop. Ek het vir tien jaar lank die vrouerekord in 400 meter gehou voordat die rekord gebreek is. Ons land kon weens die politieke omstandighede in daardie jare nie aan die Olimpiese Spele deelneem nie en ek het vir dié dissipline vir die Spele gekwalifiseer. Die laaste paar jaar het ek ook aan sewekamp deelgeneem. Ek was ook baie lief vir netbal en het ook SWA in dié sport vanaf 1978 tot 1982 verteenwoordig. In my jare as onderwyseres het ek vele skolenetbalspanne afgerig.”

In 1985 het sy en Malan Kruger in die huwelik getree. Hy was ook ’n onderwyser en saam het die egpaar oraloor die land skoolgehou.

Net nadat hulle in die huwelik getree het, het hulle hulle in Swakopmund gevestig en dit was vir Santie die lekkerste dorp om in te bly.

“Ek is mal oor geskiedenis en het self vier geskiedkundige skoolhandboeke vir graad 9 en 10 geskryf. Daar is niks lekkerder as om oorsee te gaan en al hierdie geskiedkundige plekke self te besoek nie.”

Een van haar gunstelingplekke oorsee is in Altstadt in Leverkusen in Duitsland.

“Die ou geboue en die markte is ontsagwekkend. Brussel in België is net so mooi met al sy ou geskiedkundige geboue en die klein markte en straatmarkte.”

Die egpaar het vier kinders wat hul trots is.

“Die hoogtepunt in my lewe was en is beslis om te sien hoe elkeen van my kinders ontwikkel en gegroei het tot hulle eie menswees, en dan is daar natuurlik die kleinkinders; bederf sonder al die verantwoordelikhede,” het Santie gesê.

NAALDWERK

Die passie vir naaldwerk wat van kindsbeen af kom, het oor die jare gegroei.

“Toe my kinders klein was, het ek baie van hul klere self gemaak. Soms het die lewe besig geraak en ek het minder tyd gehad om te skep en klere te maak. Met die geboorte van die kleindogters en kleinseun het die gogga my weer behoorlik gebyt en ek het weer begin om al hoe meer klere te maak.”

Santie hou van alle aspekte van kleremaak; vanaf die ontwerp van die patrone, die uitknip daarvan tot die maak van die klere.

“Ek is mal oor die uitsoek van die materiaal. Ek gaan gereeld by my seun en sy gesin in Stellenbosch kuier en dit is vir my heerlik om daar in die materiaalwinkels rond te loop en materiale te kies.

“Om in Somerset-Wes se groot materiaalwinkels rond te loop, is vir my baie lekker. Ek gaan ook graag na al die markte in die omgewing om te kyk wat is nuut en in die mode. Ek kry baie idees daar.”

Om sulke klein klere te maak verg volgens Santie baie fyn werk.

“Noudat ek afgetree is, is dit heerlik om net rustig te sit en klere te maak. Ek probeer ook om elke rokkie of broekie met iets kreatiefs te versier en om heeltyd op die uitkyk te wees na kreatiewe goedjies om op die klere te gebruik. Dit is vir my heerlik.”

Poppelops is ’n naam wat by haar opgekom het en sy het besluit dit is die ideale naam vir haar produk.

“Op elke kledingstuk sal ek iewers die sin ‘Handmade with love’ of op ’n knoop of ’n stuk materiaal of iets aanbring, want dit som elke stukkie op. Elke stuk van die begin toe ek die patroon ontwerp het tot die laaste naaldwerksteek van die ietsie kreatiefs wat vasgewerk word, is met my hand en uit die liefde van my hart gemaak.”

Die egpaar woon tans buite Windhoek op ’n kleinhoewe en Santie hou daarvan om haar huis mooi te maak en in die tuin te werk.

“Ek is mal daaroor om sommer die pad te vat en ’n ent te gaan stap en die rustigheid van die natuur ten volle te beleef en te waardeer. Vir my is dit heerlik om soggens op te staan en die dag met ’n nuwe kreatiewe idee te kan begin.”

RAAD

“Doen dit wat jy graag doen en maak tyd daarvoor. Mens raak soms so besig dat jy vergeet om lekker dinge te doen. Vir die mense wat afgetree is, kan ek net sê maak seker jy het iets om te doen ná aftrede, nog beter, iets waarvan jy baie hou en wat jou kreatiwiteit stimuleer.”

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!