Groot eer vir operasangeres

Iréne-Mari van der Walt
Die Namibiese operasangeres Janice van Rooy (22) is onlangs met die gesogte Opera Europa Eva Kleinitz-beurs vereer.

“Ek voel ekstaties. Ek het nie tydens die oudisies gedink ek sou so ver kom nie. Mededinging in die kunste is hoog en hoewel ek vertroue in my vaardighede het, is dit altyd ’n ervaring wat my op my senuwees maak,” sê die jong sangeres wat op Swakopmund grootgeword het.

Die Eva Kleinitz-beurs is gestig ter ere van die voormalige Opera Europa se president en direkteur van die Opéra National du Rhin, Eva Kleinitz, en word deur ’n bemaking in haar testament bevonds wat ten doel het om jong opera-talent te ontwikkel

“Ek dink, as dit regtig daarop neerkom, is dit die fynere dinge wat my as sangeres laat uitstaan. Die feit dat ek ’n Namibiër op internasionale verhoë is; geen Namibiese sopraan het dit al so ver gemaak nie. Baie van die beoordelaars het nog nooit ’n Namibiese sangeres gehoor sing nie en dit strek op ’n manier tot my voordeel – dit laat my uitstaan,” sê Van Rooy.

Sy voeg by dat haar voorbeeld as bewys dien dat opera en klassieke musiek nie net aan ’n eksklusiewe groep beskore is nie.

“Ek was nooit so bevoorreg nie. Ek het aan die groep mense behoort wat nie hierdie konserte kon bekostig nie. Daar was nie regtig leermeesters wat my kon leer om baie van die instrumente te speel wat ek wou leer speel het nie, maar ek het nog altyd ’n passie vir klassieke musiek gehad. Selfs toe almal om my gedink het ek is mal om dit na te streef, het ek daarvoor gewerk omdat ek lief is vir dit,” het sy gesê.

Van Rooy sê geleenthede soos die Eva Kleinitz-beurs gee haar die hupstoot wat sy nodig het om ’n loopbaan uit haar passie te skep.

“Hierdie was die enigste ding waaroor ek seker was, en ek het op ’n manier altyd geweet ek het net die finansiering en opleiding nodig om suksesvol te wees en ’n loopbaan op internasionale verhoë te bou,” sê Van Rooy.

Sy hoop om die weg te baan vir plaaslike talent in klassieke musiek.

“Een van my talle drome is om eendag ’n operahuis in Namibië oop te maak. Ongelukkig sal ons nasionale teater nie voldoende wees vir ’n vollengte-opera met ’n simfonieorkes en ’n tegniese span agter die skerms wat sorg vir ’n goeie produksie nie. So dit is iets wat die moeite werd sal wees om na Namibië te bring,” sê sy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer