Gloria toor met brandrissies

‘Wees positief en glo in jouself’
Sy staan elke dag met 'n lied in haar hart op en doen iets waarvoor sy lief is.
Tanja Bause
“Ek het vir sewe jaar as ’n risiko-portefeuljebeampte gewerk. Ek was in die begin van 2022 baie ongelukkig in my werk. Ek kon skaars in die oggende uit die huis gaan. Ek het talle angsaanvalle gekry en vir my ma en vriende gesê ek moet ’n verandering in my lewe maak. Ek het nog altyd in kos en kosmaak belanggestel. Ek het bedank en begin om brandrissiesous in my klein kombuis by die huis te maak. Ek staan nou elke dag met ’n lied in my hart op en kan nie wag om in my kombuis in te vaar nie,” het Lavinia Simon (30) van Gloria’s Chilli- en Jalapenosous gesê.

Haar boesemvriendin, Molly, het haar in 2012 Gloria gedoop.

“Die naam kom van ’n tekenprentreeks wat op NBC uitgesaai is. Ons het ná skool die reeks gekyk en ek het die naam gekry. Ek het besluit om die naam te hou en my sous so te noem, omdat die naam baie naby aan my hart is. My ma het die eerste keer gelag toe sy hoor wat my vriende my noem, maar nou noem selfs my familie my Gloria.”

SKOOL

Gloria is in ’n klein nedersetting in die Ohangwenastreek gebore.

“My primêre skoolloopbaan het ek in die Suide by die Ecumenical Community School Khoichas begin en voltooi. Ek was in die koshuis en het slegs vakansies Windhoek of Noorde toe gegaan. Op skool is ek aan verskeie kulture blootgestel en het vinnig Damara/Nama en Afrikaans leer praat.”

Volgens Gloria was sy ’n stout en nuuskierige kind wat daarvan gehou het om vrae te vra, die reëls te verbreek en die alledaagse uit te daag.

“Ek het in Windhoek my hoërskoolloopbaan begin en matriek by ’n skool in die Noorde voltooi. Ná skool het ek by IUM ’n baccalaureusgraad in menslike hulpbronne en bestuur begin, maar het dit nie voltooi nie.”

“Natuurlik het ek baie drome as kind gehad. In van dié drome was ek selfs ’n popster. Ek wou so baie dinge doen en word, maar ongelukkig fokus ons drome op ons passies.”

BRANDRISSIES

“Ek was nog altyd lief vir brandrissies. My ma het altyd klem op gesonde eet gelê en sy het kos op dié beginsel gekoop.

“Ek het altyd wanneer ek geld gehad het iets branderig en sappig gekoop om te eet. Ek is mal oor brandrissies en souse en ek het agtergekom dat talle restaurante nie goeie brandrissiesouse beskikbaar gehad het nie.”

Die liefde en belangstelling in brandrissiesous het by ’n vriendin begin.

“Wanneer ek by hulle op die plaas gekuier het, het hulle altyd brandrissiesous gemaak vir braaivleis en om te verkoop. Die sous het net drie of vier bestanddele gehad. Aan die einde van 2018 het ek haar na my nedersetting genooi en die liefde vir die sous het nog verder vlamgevat.

“Ek het my eerste sous self gemaak en die volgende jaar begin verkoop. Ek het die sous in gewone 375 ml-whiskeybottels sonder ’n naam of etikette gevul en verkoop.”

Sy het vir haar oom ’n bottel gegee en hy het gesê as sy ernstig oor haar sous is, moet sy ’n etiket ontwerp en op die bottels plak.

“Ek het navorsing gedoen omdat ek iets spesiaals en uniek op my etiket wou hê. Ek het op die boommuis afgekom wat die enigste soogdier – behalwe mense – is wat brandkos geniet. Hulle vreet brandrissies en dit is hoekom sy op my etiket is.”

SOUS

Tans is daar drie verskillende souse op die rakke: baie warm, matige brandrissies en jalapeno. Gloria is tans besig om met nog te eksperimenteer.

“Ek lê ook uie en komkommer in. Ek is gedurig in die kombuis besig om goed te maak en te eksperimenteer. Ek maak goed en dan laat ek ’n klomp mense proe. Ná hul terugvoering weet ek of ek iets moet verander, of dat die produk reg is. Gloria’s sal beslis nie by net brandrissiesous stop nie.”

Gloria’s doen alles vanaf die maak, bottelering, etikette plak tot die verkope van haar souse self.

WERK

“Ek moes alles self doen om uit te kom waar ek nou is. My bedanking was ’n gewaagde skuif, maar met die ondersteuning en aanmoediging van my familie was dit die regte skuif. Die kosbedryf was my droom en nou werk ek vir myself. Ek het ’n visie en ek werk daarna toe.”

Sy wil graag ’n kursus by ’n kookskool doen.

“Dit is egter baie duur en ek het nie nou die geld nie. Ek spaar, maar tans maak ek sous, verkoop die sous en gebruik die geld om terug in my besigheid te ploeg. Ek sal egter nie opgee nie.”

HOOGTEPUNT EN DROOM

“Die hoogtepunt was toe ek die eerste groot bestelling vir my sous gekry het. Ek kan nog steeds nie glo dat ek ’n 100% plaaslike Namibiese produk ontwikkel het wat in winkels langs groot handelsmerke staan nie. My vriende en familie is so trots op my.

“Ek wil ’n stuk grond besit waar ek kan plant. Ek wil werk verskaf en ’n verskil maak deur in my gemeenskap en land terug te ploeg. Ek hoop vir meer finansieringsgeleenthede, raad en enige hulp sodat Gloria se tuisgemaakte brandrissiesous op winkelrakke en restaurante – as ’n plaaslik vervaardigde Namibiese produk – aangebied kan word.”

RAAD

“Begin nou en moenie moed opgee nie; elke besigheid het klein begin. Weet waar jy vandaan kom en waarheen jy wil gaan. Alles groot begin klein. Ek het van onder af begin met geen finansiering nie, net met die bietjie geld wat ek gehad het. Ek ken en verstaan jou pyn maar as dit oorweldigend raak, gee jouself vyf minute om te huil, staan op en gaan grawe in die modder vir jou diamant.

“Wanneer dinge ’n bietjie moeiliker word, staan weer op en moenie moed opgee nie; wees konsekwent, selfgemotiveerd, vasberade en gedissiplineerd. Niemand het gesê dit gaan maklik wees nie. Wees positief en glo in jouself. God het ons lief en sorg vir ons.”

Gloria se souse is elke Sondag by die Village Market in Windhoek beskikbaar. Die souse is ook by Paragon Investments, OK Food/Liquor Supermarket in Onafhanklikheidsrylaan, aanlyn by Namibia Farmers en die Italiaanse winkel by die Village beskikbaar. Bestelling kan ook op Facebook geplaas word.

Kommentaar

Republikein 2025-06-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer