Geliefde renosterlegende sterf

Francoise Steynberg

Drie dae voor die herdenking van Wêreldrenosterdag môre en 13 dae na sy 53ste verjaardag, sterf die bekende renosterbewaarder, Jaco Muller, in ’n girokopterongeluk op die plaas Chorab in die Outjo-distrik. 

Die geliefde stigter van die Rhino Momma Project en eienaar van die Kifaru Luxury Lodge & Bush Camp se girokopterwrak is uitgebrand, net so pikswart soos die omgewing van Outjo deur veldbrande verskroei is.

Muller het elke dag oor sy plaas gevlieg om te kyk of sy renosters veilig is, veral omdat daar onlangs weer pogings van sindikate was om sy renosters te stroop. Saterdag het hy egter die brande in die Outjo-omgewing uit die lug met sy girokopter gemonitor, maar op die nabygeleë plaas Chorab geval. Dít is volgens die vliegtuiondersoekbeampte, Ben Engelbrecht, wat vanaf gisteroggend op die toneel toneel is om die oorsaak van die ongeluk te ondersoek.

“Dit is baie moeilik om nou die oorsaak te bepaal, omdat die wrak uitgebrand is,” het hy gisteroggend aan Republikein gesê.      

Volgens die veearts van die projek, dr. Juliette Erdtsieck, het Muller ná sy vlug Saterdag nie teruggekeer nie en hulle het bekommerd geraak.  

“Hy was onbereikbaar. Ons kon hom nie per radio of sy selfoon in die hande kry nie en dit is nie soos hy is nie,” het Erdtsieck Saterdagaand aan Republikein gesê. 

Volgens haar het Muller se seun, Tristan, sy pa se selfoon nagespoor en op die ongelukstoneel afgekom. 

Die ongeluk is Saterdag omstreeks 18:00 by die direktoraat van vliegtuigongelukondersoeke (DAAII) in die ministerie van werke en vervoer aangemeld.  

Huldeblyke stroom van heinde en verre vir Muller in wat nie net Namibië se grootste renosterboer was nie, maar ook voorsitter van Help our Rhinos Now Namibia (HoRN.nam). Hy het saam met ander Namibiese verteenwoordigers einde verlede jaar by die 20ste Konferensie van Partye (CoP20) van die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Fauna en Flora (Cites) in Samarkand, Oezbekistan, gepleit vir die wettige handel in renosterhorings. ’n Tweederdemeerderheid partye het nee teen Namibië se voorstelle gestem.

Met die Suid-Afrikaanse renosterboer, John Hulme, sy grootste mentor, was dit ook Muller se wens om die renosterbevolking in Namibië en Afrika uit te brei en hy het selfs renosters na die Amerikaanse deelstaat Texas uitgevoer , “want hulle is veiliger daar”. 

Buiten om weesrenosterkalfies in te neem wie se ma’s wreed gestroop is, was hy ’n gesinsman wat op 20-jarige ouderdom met sy vrou, Cher getroud is. Hulle het ’n seun Tristan en dogter Paige. Buiten sy renosters, was sy twee kleinkinders van Tristan en sy skoondogter Amber-Lee sy grootste trots. 

Muller het op Okahandja grootgeword waar sy ouers, Koos en Yvonne, steeds bly. Sy ma het op Facebook geskryf: “Die klein mannetjie met die grootste hart.”

Boonop het Muller altyd ’n helpende hand aan sy vriende en die gemeenskap uitgereik, hetsy tydens die droogte, renosterstropery of veldbrande.

“Ek was bevoorreg om hom as ’n wonderlike direkte buurman te ken. Ons het baie keer oor boerderysake gepraat. Tydens die erge droogte het hy vir ons kos van die kerk gebring as ’n aanmoediging om aan te hou probeer en geloof te behou,” skryf Asnath Kaperu. 

“Ons het baie veilig gevoel teen stropers, want ons het ’n reëling gehad om ’n ogie oor ons plaas te hou wanneer hy gevlieg het. Hy sal baie gemis word.”

Jossy Panduleni Haufila skryf: “So so hartseer om ’n bewaarderder van bedreigde renosterspesies te verloor. Mag sy werk en nalatenskap voortduur. Rus in vrede, Kampioen!”

Gaby Tirronen vra waarom sterf altyd die goeie mense? “Hy was ons redder toe ons nie geweet het hoe om aan te gaan om ons renosters te probeer red nie.” Sy hoop en vertrou dat sy familie met dié renosterlegende se nalatenskap kan voortgaan.

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-11-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer