Geliefde oom Biggs se plek leeg
Hy was die konstante figuur wat elke dag op sy kampstoel met sy kierie op ‘n straathoek sou sit. Vir jare die stil bewaker van Windhoek se strate. Immer teenwoordig, die merkwaardige gryskop oom Biggs van Wyk met ‘n besonderse liefde vir God en sy mense.
Onthou’s van oom Biggs se immer teenwoordigheid vir etlike jare in die hoofstad se sakekern het ingestroom nadat dit bekend gemaak is dat die diep-gelowige man na sy hemelse huis verhuis het.
Hy sal nooit vergeet toe ‘uncle’ Biggs vra: “Boeta, hoekom lyk jy weer vanoggend so mismoedig? Moenie worry nie, man. Die Here kom altyd deur, hou net moed, kom ek bid vir jou,” skryf een.
Vir ‘n ander was hy elke weeksdag se groet by die Thüringerhof-hotel oppad werk toe.
“Dit het my verseker dat my werksdag geseënd sal wees. Dankie vir u getroue wagstaan en getuienis.”
“Ek het hom die eerste gewaar laat in 2007 en hy het nooit nie opgedaag nie,” laat weet nog een. “Hy het in sy eie reg deel van Windhoek se gesig geword. Sonder lawaai of rumoer, maar deur net eenvoudig elke liewe dag daar te wees,” skryf nog een oor die hoofstad se geliefde oom Biggs.
Hy het sy redes gehad oor hoekom hy elke dag sonder ophou oor Windhoek se strate gewaak het, skryf ‘n inwoner. “Hy het sy verhouding met hierdie stad gehad wat die meeste van ons nooit werklik ten volle verstaan het nie. Maar ons het ophou vra en hom eenvoudig aanvaar as deel van ons stad se identiteit.”
Nog ‘n inwoner vertel van meer as 30 jaar se werk by die munisipaliteit en oom Biggs wat toe altyd by die verkeerslig by Bears en die Hilton Hotel gesit het.
“Daar was altyd baie ongelukke, maar vandat hy daar begin bid het, het dit amper heeltemal gestop. Dit was so lekker om te sien staan en later soos die jare aangestap het, te sien sit. Ek het grootgeword met hom.”
Ander onthou hom as “ons jong dames se dansmaat en oppasser wanneer ons huis toe loop na bioskoop of dans”.
Met oom Biggs en sy kampstoel en kierie wat nou van die hoofstad se gesig verdwyn het, het verskeie inwoners gevra dat Zoopark in Onafhanklikheidsrylaan na Windhoek se stille bewaker vernoem word.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie