Doel: Vlot in Afrikaans in vyf maande
Vandag is die 13de dag wat die gebore Zimbabwiër, Gregory Muwombi (27), homself leer Afrikaans praat en sy doel is om binne vyf maande die taal vlot te kan praat.
Hy deel hierdie reis met sy derduisende volgelinge, ook van Namibië, op Instagram en TikTok en sy eerste plasing onder sy gebruikernaam @jigojordan_ in die reeks het gister teen druktyd 351 800 kyke en 53 900 ‘likes’ op TikTok gehad.
“Ek het nie gedink dit sou so posvat nie – nie eens naby nie,” verduidelik Gregory wat sê sy beste vriend, Daniel Williams, is die dryfkrag agter hierdie doelwit.
“Ek maak musiek saam met my beste vriend, wat ook my vervaardiger is. Toe het hy een dag vir my die soort housemusiek gespeel waarop Afrikaanse mense sou sing.
“Ons twee het nog altyd die visie gehad om mense byeen te bring en ek het toe gedink as ek kan leer om in Afrikaans te sing, kan ons baie mense byeenbring,” verduidelik hy.
Gregory verduidelik dat hy met die opname van sy eerste video in die reeks gedink het sy Afrikaans is piekfyn.
“Ek het eintlik gedink dit was heel reg, maar het toe later besef dit was nie eens naby nie.”
Hoewel Gregory toe verleë gestaan het voor die internet, sê hy die kommentare beur hom op en laat hom vir sy eie flaters lag.
“Ek lag altyd vir die kommentare en ek is mal daaroor dat mense my in die kommentare met my uitspraak reghelp,” vertel Gregory wat nou in Kaapstad woon.
Hy hou vol dat sy oorspronklike doelwit onveranderd is ten spyte van sy oorspronklike uitdagings.
“Ek is nog steeds reg om oor vyf maande Afrikaans te praat en sing. Ek is nou minder bang om te vra as ek iets nie verstaan nie en om te leer uit die raad in die kommentaar.”
Dit is ook nie nét die rusbankkomentators wat vir Gregory binne vyf maande vlot gaan Afrikaans leer praat nie.
“Ek dink mense besef nie dat ek ook private lesse met twee onderwysers neem wat my elke dag leer nie. Agter die internet bestudeer ek hierdie ding behoorlik,” sê hy.
Gregory sê dat hy nog altyd ’n liefde vir tale gehad het, maar huiwerig was om Afrikaans te leer.
“Afrikaans het lank terug my aandag getrek, maar ek het getwyfel of ek die taal kon leer. Ek het toe later Daniel se familie ontmoet en hoe meer tyd ek met hulle bestee het en hoe meer ek die taal by hulle gehoor het, hoe meer het ek ’n ander perspektief van die taal gekry.
“Ek wou baie graag beter bande met Afrikaanssprekendes en met die kultuur bou,” sê hy.
“Dit is vir my baie interessant waar die taal vandaan kom en hoe dit ontwikkel. Die geskiedenis agter die taal maak dat ek self ook deel daarvan wil wees.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie