Salvador Mouers Foto ATKV-Crescendo
Salvador Mouers Foto ATKV-Crescendo

Crescendo-kontrak ‘’n eer en voorreg’

Iréne-Mari van der Walt
“Ek is al sedert 2010 in die bedryf, maar hierdie kontrak is soort van maak of breek vir my as musikant.”

Só sê Salvador Mouers, ’n musikant van Walvisbaai, wat onlangs ’n opnamekontrak met ATKV-Crescendo se mentorskapprogram losgeslaan het. Dié program het ontstaan as ’n talentsoekkompetisie, maar het later ontwikkel tot ’n mentorskapprogram vir opkomende musikante.

Salvador sê hy is nie ’n nuweling in die musiekbedryf nie, maar dat sy samewerking met Crescendo ’n geleentheid vir hom is om die Suid-Afrikaanse mark te betree.

“Dis ’n groot voorreg om die eerste Namibiese kunstenaar te wees wat ’n opnamekontrak met ATKV-Crescendo gekry het.

“Die ATKV-Crescendo se mentorskapprogram, waar ons ’n week in die Paarl, Suid-Afrika, deurgebring het, het my reeds ’n duidelike bloudruk gegee van hoe ek met my loopbaan as musikant kan vorentoe beweeg,” sê hy.

Die pa van drie jong dogters sê hy neem nie die verantwoordelikheid om een van Namibië se eerste verteenwoordigers by Crescendo te wees ligtelik op nie.

“Dis ’n groot voorreg en eer, maar terselfdertyd ook ’n groot en baie belangrike verantwoordelikheid, want ek is die eerste Namibiese kunstenaar onder ATKV-Crescendo en ek sal nou die standaard vir die volgende kunstenaars van Namibië stel wat na my kom,” sê hy.

Salvador sê hy hoop om meer musiek te maak wat die gedagtes aanwakker.

“In terme van liedjiekonsepte (die stories wat ek met my musiek wil vertel) moet dit meer gedagteprikkelend wees en ook terselfdertyd, as iemand oor tien of 15 jaar na die liedjie luister, bly dit steeds relevant, of bied dit nuwe insigte.”

Hy verduidelik sy rol as eggenoot en ouer het ’n nuwe dimensie aan sy musiek toegevoeg.

“Dit het ’n meer volwasse element en karakter aangeneem, maar in terme van my klank as Salvador, het dit nie baie verander nie. Ek het byvoorbeeld nie van R&B en hip-hop na rock of country wegbeweeg nie,” sê hy.

As musikant sê Salvador sy grootste uitdagings is ’n gebrek aan geleenthede en openbare opvattings oor die waarde van kunstenaars se werk.

“Ek moes nou al meer as een keer my waarde as kunstenaar en my kunsvorm verdedig, want daar is ’n persepsie dat sing of rap net dit is, dit kos niks nie, en het nie regtig waarde nie.

“As ons bymekaar kan kom, as musikante, saam met die maatskappye om geleenthede en platforms te kan skep waar kunstenaars hul kuns kan uitvoer en dit ’n stap verder kan neem, dink ek ons sal die musiekbedryf na groter hoogtes vat as net ‘ons het talent’ en regtig iets daarvan maak,” sê hy.



BESOEK

Die ATKV-Crescendo-span het ook vier slypsessies landswyd vir opkomende musiektalente in samewerking met die kletsrymer Ixa aangebied.

Selby Williams van ATKV-Crescendo sê ’n inisiatief soos ’n mentorskapprogram is belangrik om kunstenaars by ’n gemeenskap te betrek.

“Kunstenaars het ’n gemeenskap nodig. Sedert ons in 2016 met mentors begin het, het dit meer as ’n mentorskapprogram geword,” verduidelik hy.

Hy glo kunstenaars is geneig om vir dieselfde, klein mark te baklei en dit die gevoel van eenheid en gemeenskap onder opkomende kunstenaars kan verbrokkel.

ATKV-Crescendo se projekbestuurder, Morné van Standen, glo dat kunstenaars juis die musiekbedryf sal laat floreer wanneer mededinging beëindig word.

“Niemand is in kompetisie met mekaar nie, want jy is uniek en jy is uniek wanneer jy jou eie individualiteit ontdek,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer