Gerhardus van Grootfontein
Gerhardus van Grootfontein

Wyk kragboks!

[email protected]



Iets wat my innig grief is diegene wat altyd ’n demoon in elke kragboks sien.



Ek dink nie joga is ’n uitnodiging vir bosegeeste nie; die yin-yang-teken is definitief nie duiwels nie; en tatoes is redelik ver van Satan se stempel af. Nietemin, indien die skedelbeen op ’n kragboks onheilspellend voorkom en dit ’n individu veilig laat voel om elektrisiteit aan die onderwêreld toe te skryf: laat jou geluk blom en glo so voort.



Ek het ’n verlangse familielid wat die bose so onder elke bossie uitkrap. Toe my ouma nog gelewe het, het ons hierdie persoon gereeld bespreek. Ons wou die bloedverwant in ’n stadium na die stadspoort sleep en met klippe gooi. Maar met my ouma bedlêend, moes ek alleen die taak aanpak. Dit het vinnig ’n logistieke uitdaging geword, so ons het dit maar liewer gelos.



Omdat die familielid op vrye voet was, het hulle dit goed gedink om die duiwels in ons persoonlike ruimtes te identifiseer. ’n Tretchikoff-afdruk het so deurgeloop. Die bak vol vrugte op ’n blou Maleisiese vrou se kop het blykbaar ’n offerande aan afgode gesimboliseer (alhoewel daar geen suggestie daarvan in die prent was nie). Dit was onheilig en dus sal ’n vloek tot in lengte van dae oor ons rus. Weens my opvoeding het ek geknik en geglimlag.



Persoonlik glo ek nie in afgode nie. Ek voel elke kultuur se uitdrukking van spiritualiteit het waarde en moet gerespekteer word.



In elk geval, nadat ek die insident met Ouma gedeel het, het ek die herinnering in mooi geskenkpapier toegedraai en diep in my binneste gebêre.



Amper ’n dekade later woon ek ’n vertoning rakende tradisionele Japannese gewoontes en kultuur by. Onder andere was daar ’n tentoonstelling oor Ikebana – Japannese blommerangskikking. Hierdie tradisionele blommerangskikking dateer terug na 500 AD toe Boeddhisme na Japan gekom het. In Boeddhistiese tempels was dit gebruiklik om blomme as offers aan Boeddha te bring. Die rangskikkings was eenvoudig, en simbolies, met drie hoofstamme van verskillende lengtes wat hemel, mens en aarde verteenwoordig het; ’n konsep wat steeds ’n kernbeginsel van Ikebana is.



Later het Ikebana ook Shinto-­elemente ingesluit, waar sekere vorms en patrone as wyse beskou is om goeie geeste te lok en bose geeste af te weer.



Terwyl ek die storie so kyk, kon ek nie help om aan die familielid te dink nie. Al ons familietroues en begrafnisse het altyd blommerangskikkings. So, wanneer ons die Tretchikoff-uitgangspunt gebruik, beteken dit dat alle bruidsruikers en kisgerwe offerandes vir afgode en geeste is. Wat vir A geld moet ongelukkig ook vir B geld.



Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek besef verskillende kulture het dieselfde gebruike vir verskillende doeleindes. En, dit is juis my punt: wanneer ons ’n persoonlike of geloofsnarratief wil aanvuur, gebruik ons ander kulture se gebruike om mense binne ons eie kulturele idioom se gedrag en voorkeure as duiwels te verklaar. Maar, ons is selektief en onkrities wanneer dit by ons eie gebruike kom.



Ons almal het die reg om te glo, en ons lewens te lei, soos wat dit vir ons goed is – solank dit nie ander mense skade berokken nie. Maar, om mense te veroordeel en hulle gebruike en gedrag te demoniseer, is skadelik. Dit is vervreemding en marginalisering.



So, ontspan, want soms is ’n ­liggaamstrek net ’n strek, ’n tattoo net ink en ’n kragboks, wag vir dit... net ’n doodgewone stuk ingenieurswerk. Skedel en al.



– Gasskrywers



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer