Lesersbrief
Lesersbrief

Woorde vir die wind

Lesersbrief
DIETER MAREE

DIETER MAREE SKRYF: 

So vertel hy my van kruisement en sy kinderdae op ’n plaas daar iewers in die Noord-Kaap, “dis harde wêreld met pragtige blomme en mooi gesiggies, maar op ’n plaas word daar gewerk en nie juis gekuier nie”. 

“Ag nee, asof ons stadsjapies nog nooit die aarde met ’n metaalvoorwerp gegroet het nie!” vererg ek my vir die oom se blatante meerderwaardigheid of die feit dat hy dalk tipies renegaat, ’n sakie met growwe hande gaan aanroer, wat ons eerder moet vermy.  

’n Week later en ná ’n hewige geworstel, besluit ek om sy gevoel rondom hierdie saak weer te toets, nadat dit tot my deurgedring het dat ons gerieflikheidsonthalwe verkies om tussen gaste te kuier met dieselfde agtergrond, dieselfde belangstellings en snaaks genoeg, dieselfde opinies rondom die lewe. 

Die vraag is egter nou of daar enigsins waarde of groei te vinde is in goed wat dieselfde klink en voel, terwyl ons in wese hemelsbreed van mekaar verskil?

“Op die platteland is daar nie eintlik plek vir diplomatiek nie, want daar word ’n man aan sy handewerk geken en nie sy vermoë om woorde netjies aan mekaar te slaan nie,” brei hy uit op iets wat my al hoe meer begin fassineer. 

“Ja, maar wat van goeie maniere, bedagsaamheid en respek teenoor jou medemens?” probeer ek ’n vinnige enetjie deurstuur. 

“Nee, kyk goeie maniere, bedagsaamheid en respek teenoor jou medemens én die natuur hoef jy nie net met jou mond te wys nie, maar met jou ander liggaamsdele ook,” klim hy terug met die ritme en grasie van ’n uitgeslape katgedierte. 

En daar onthou ek ’n wyse oompie se woorde die dag toe hy my vertel het dat die vertrekpunt van respek teenoor jou medemens soms gestalte vind, wanneer ons eenvoudig na mekaar begin luister. 

“Maar stilbly is tog soms die beste antwoord om konflik te vermy,” probeer ek nog ’n bietjie dieper delf (want híér ruik ek reën). 

“Ja-nee, ek stem saam – veral waar die daad minder skade sou aangerig het,” suig hy aan ’n pyp wat egalig aan die Boxer-blare peusel.

En net toe dinge begin klop, sweef die woorde van ’n afgetrede vroueregter by my linkerskouer verby. “Demokrasieë is lawaaierige plekke, dis as dinge stil raak dat jy jou moet begin bekommer.” 

“Ja, maar wat van vryheid van spraak, dis tog seker iets waarvoor daar ’n duur prys betaal was. . .?” wil ek hom tog net herinner aan ’n ánder wyse oompie wat ook destyds ’n metaalvoorwerp geswaai het daar iewers op ’n eiland. 

“Dis belangrik en natuurlik was daar ’n duur prys betaal, maar die vraag is nog steeds waarheen ons op pad is met ’n stortvloed van woorde, nadat ons geslaag het om sinne en situasies te skep, wat geensins verteenwoordigend is van dit wat werklik in ons binneste woed nie?” 

Ja-nee, die woorde van die filosoof, Martin Versfeld spook nog daagliks by my. 

“Everybody thinks and acts as he is expected and not from within, there is a public opinion which is literally nobody’s opinion.” 

Nog ’n sug wat onderdruk word en antwoorde wat ryp en ontwykend op ’n koper horison dans. 

“Dié unieke en weerlose klanke, wat binne ons elkeen skuil, word nie slegs uitgedoof deur die verbysterende geraas van die wêreld nie, maar ook deur die geraas wat ons in die wêreld bring deur nie te luister nie en nie te dóén nie!” knyp hy die pyp se stingel met ’n klik – ’n geluid tussen sy agtertande. 

“Nou verstaan ek,” kom ek met ’n laaste poging om aan hom te bewys dat my kosbare boekkennis nie net ’n klomp koue, nuttelose fiksie is nie. 

“There are those who have something to say and those who have to say something.”

’n Oer en ongemaklike stilte beweeg tussen die 30 jaar ouderdomsverskil, die hede en die verlede – óú bome en groen blare. Ligblou rookdampe dreig met ’n skermutseling om elke plooi op ’n roes-rooi gesig, wat per sekonde ouer word. Die geur van droë vrugte en nat grond begin trek stadig met die krag van ’n reuse- rooibosteesak verby my siniese gemoed tot anderkant ’n sagte onwrikbare weefsel in my verlatenheid. 

 “. . . wees stil en. . .,” kom hy fluisterend terug met ’n eeueoue repliek, terwyl daar peinsend in ’n rigting getuur word, asof hy vir oulaas wil plek maak vir ’n paar skaam reënwolkies op die verweerde stoep. 


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer