No Image Caption

Windhoek Skou stel teleur

Mandy Rittmann
BENNIE BOBEJé SKRYF:

Die Windhoekse Skou van vanjaar was ’n gruwelike teleurstelling en allesbehalwe aangenaam. Met ons aankoms by die hoofhek is my gesin op die laaste dag deur drie ellelange rye van duisende mense, wat tot by Jan Jonkerweg gestrek het, begroet.

By die hek self was daar ’n chaotiese samedromming van skougangers wat probeer inkom het. Alhoewel polisielede hard moes spook om orde te handhaaf, was die hekpersoneel té stadig en het dit die proses vertraag. ’n Pragtige ligpuntjie was dat peuters en kleuters gratis kon ingaan, maar die samedrommings, wat soms gedreig het om tot geweld of stormlope oor te gaan, het die hantering van kleintjies bemoeilik.

Binne op die skouterrein het dinge eers regtig stres veroorsaak. Oral was daar chaos by kaartjieverkooppunte en swaaie. Dronk tieners was volop en alkoholiese verversings byna oral beskikbaar, selfs naby die swaaie waar tieners graag saamgedrom het. Dit het kompleet soos ’n Bacchus-fees gelyk.

By die trapfietse vir kinders was dit nie veel beter nie. Ouer kinders, wat soms te rof en deurmekaar en in die teenoorgestelde rigting gery het, is toegelaat om saam met kleintjies te speel. Soms moes ouers selfs op die renbaan klim om hul kinders te beskerm.

Die toilette was deur dronk, ongeskikte tieners volgepak – kinders wat daar stoutighede aangevang het of dronk en kotsend op die vloere gelê het. Ek kan nie glo dat ouers so onverantwoordelik is, om hul weerlose tienerdogters sonder toesig na ’n slagveld van listige seuns en mans te stuur nie. Ek het gesien hoe dronk meisies soos lappoppe deur ouer, aggressiewe seuns na buite gelei word en het vergeefs na hulp by polisiebeamptes gesoek – daar was geen orde nie.

Mens moes orals op jou hoede wees, want grypdiewe het na prooie gesoek en geleenthede om toe te slaan. Ten spyte daarvan het ons eers baie laat ’n groepie polisielede op die terrein gesien. Veiligheidspersoneel was in die algemeen veels te min.

Na jare se miljoene dollars in jaarlikse winste het die Windhoek Skouvereniging blykbaar nie eens daaraan gedink om die stowwerige pretpark en loopvlakke by die veestalle te plavei of op te knap nie. Hulle het ook nie die kaartjieverkope probeer moderniseer deur dit byvoorbeeld via Computicket, hul webwerf of ’n toep te doen nie.

By die hek op pad uit, sou mens verwag om vinnig te kon uitstap, maar weer eens is ons deur ongeskikte mense teruggedruk. Hierdie keer was daar geen polisiebeamptes betrokke nie, net gewone veiligheidsmanne wat swak beheer en orde gehandhaaf het.

Buite, op pad na die hek toe en ook toe ons vertrek het, is ons telkens deur Zimbabwiërs wat allerhande snuisterye verkoop het, bestorm – straatverkopers wat, soos almal weet, nie belasting betaal nie en miljoene dollars uit die land laat vloei, wat ons ekonomie negatief raak. Wanneer gaan die owerhede hulle uiteindelik begin beheer?

Die Skouvereniging, uitstallers en verkoopsmense moet onthou, dat skougangers se lewens en veiligheid belangriker is as die geld wat uit ons gemaak word of die steun wat hulle probeer werf. Hulle almal moet hul sokkies optrek en die skou vir besoekers aangenamer, veiliger en die moeite werd maak. Beheer ook alkoholverkope volgende keer, anders verydel die hele skou sy doel om ’n positiewe ervaring vir almal te wees.



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-12-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer