Wanneer om jammer te sê en hoekom
So ’n tydjie gelede het ek ’n liederlike flater begaan en in een van my rubrieke na die verkeerde ouetehuis verwys.
Dit het verstaanbaar ontsteltenis onder sommige mense veroorsaak en ek het in die koerant om verskoning gevra. Ek het dit terloops aan iemand in ’n gesprek genoem en hulle kommentaar was: “O, wat ’n ongemaklike situasie!”
Ja, beslis ’n ongemaklike situasie vir diegene aan die ontvangkant van my foutiewe kommentaar. En ongelukkig was die doel van my rubriek – om van hulp te wees aan die korrekte instansie – ’n totale flop.
Hoe gemaklik of ongemaklik ek oor die situasie voel, is nie ter sprake nie. Ek weet van baie mense wat, uit pure koppigheid en in beginsel, nie in sulke omstandighede om verskoning sal vra nie. Dit is iets wat ek werklik nie verstaan nie.
My Ingelse ouma het altyd gepraat van “No skin off your nose” – dit sal jou absoluut niks kos om verskoning te vra nie. Behalwe dalk ’n bietjie trots. En daardie het jy reeds neergelê toe jy (ek) die fout begaan het.
Wanneer sê ’n mens jammer? Wanneer jy iemand te na gekom het. Deur jou woorde, dade, jou manier van dinge doen. Die groter probleem in vandag se tye is dat al hoe minder mense kommunikeer wanneer hulle te na gekom voel en dit skep ’n hele generasie van “offended individuals” wat met daardie gevoel en emosie rondloop en op onverwagte oomblikke optogte daaroor hou in plaas daarvan om die probleem op ’n kleiner skaal en in persoon uit te sorteer.
Baie dankie dat ek van my flater in kennis gestel is en die geleentheid gehad het om dit te probeer regstel. As dit nie daarvoor was nie, sou ek vandag nie enigsins wyser oor die saak gewees het nie. Hoekom sê ’n mens jammer? In die eerste en mees voor die hand liggende plek, is dit om met die party wat te na gekom is, te probeer regmaak.
Soms is ’n verskoning genoeg, soms nie. Soms word meer as net blote woorde vereis, soms moet jou optrede ook wys hoe jammer jy is. Om net so te sê, is nie altyd oortuigend nie, veral wanneer jou houding en jou woorde nie “saampraat” nie.
Die tweede rede is om die saak aan jou kant uit die weg te ruim. Sê nou maar jy bou ’n emosionele arsenaal op van geleenthede waar jy mense te na gekom het en nie om verskoning gevra het nie. Met elke situasie stel jy ’n atletiekhekkie op in jou pad vorentoe wat jy eers moet oorkom voordat jy kan aanbeweeg.
Hoe vinniger jy daardie hekkie uit jou pad kan verwyder en dit agter jou kan sit, hoe makliker is dit vir jou om emosioneel aan te beweeg, maar ook hoe vinniger.
Stel jou voor jy kan kilometers vooruit sien en die pad is besaai met al die hekkies wat jy nie in die verlede verwyder het nie, al was dit moontlik om dit onmiddellik te doen. Dit sou my moed vir die pad vorentoe breek.
Boonop wil jy graag hê dat iemand wat jou seergemaak het of te na gekom het, jou nou en dan om verskoning vra as hulle gefouteer het. As jy self daardie beginsel uitleef dan is daar hoop dat daar ook ander sal wees wat dieselfde beginsel sal volg.
Liefde, groete en seën vir die res van die week. Van Wiesie– Gasskrywer– [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie