Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

Waar kruip ons meesters weg?

Irene Van Der Walt
Ek gesels onlangs met Mardaleen Derks, wie se liefdesverhaal grootliks die fliek Vergeet My Nie geïnspireer het.

Dit was nie die eerste keer wat ek met haar praat nie.

Ek was voorheen die trotse My Zone-koördineerder vir Gobabis Gymnasium, waar sy skoolgee. Dit is nou voor ons oor die fliek en Hugo se handdoeke gepraat het.

Juf. Derks sal in my oë altyd die titel van taalkundige omhoog hou. Jy kan haar enigiets oor die HAT vra, en sy sal jou kan antwoord, veral as dit by die Latynse oorsprong van woorde kom.

Soms wens ek ek het ’n juf. Derks wat langs my kon sit en raad gee wanneer ek moet skryf, want mooier Afrikaans het ek nog nie die voorreg gehad om teë te kom nie.

Met die wete dat sy jou oor die Latynse afkoms van woord kan vertel en die mooi Afrikaanse woord vir dit, was die eerste ding wat ek wou weet hoekom sy nie nog ’n boek geskryf het nie.

Ek het eintlik verwag sy sal my saggies reghelp en sê sy het reeds drie geskryf, maar helaas sê sy sy het nooit die tyd gehad nie.

Volgens my is soveel papier al op boeke met louwarm woorde gemors en ek is nou moeg daarvoor. Ek het self as tiener boeke geskryf, al was dit kort en nie van veel waarde nie.

Stel jou nou voor ek is die enigste een oor wat braaf genoeg is om my kamtige “boeke” aan uitgewers voor te stel – die taal sal ’n voortydige dood sterf.

Ek het nog altyd in die filosofie geglo dat jy nie die beste hoef te wees nie, jy moet net beter as die ander in die resies wees.

My ouer broer was my lewe lank ongelooflik mededingend, en niks het nog verander nie.

As ek as kind in iets begin belangstel het, was dit nie lank daarna nie, dan het ouboet my rekord probeer verbeter.

Die feit dat ek nooit net iets kon geniet sonder dat dit ’n kompetisie moes word nie, het my geweldig ontstel en my alewig hopeloos laat voel.

Nou dat ek ouer is en die spreekwoordelike skildery van verder kan bekyk, besef ek die ironie van die saak. As ek net nie toegelaat het dat my eie kleinlike gevoelens my gekeer het nie, kon ek nou ’n sterrekundige of danser of wie weet wat gewees het.

As ek net nie toegelaat het dat my lawwe emosies my vooruitgang gekeer het nie.

Ek wonder hoeveel van ons “bestes” is nie eintlik ons bestes nie, maar eenvoudig net die bestes wat probeer het. Wat het ons om te verloor? ’n Bietjie tyd? Dalk ’n oomblik se hitte op ons wange?

My ma het my grootgemaak met die filosofie “those who mind don’t matter and those who matter don’t mind”.

As iemand jou verneder oor jou verleentheid, is hulle nie iemand wat jou belange op die hart dra nie. Maak ’n absolute gek van jouself en lag vir die gemors wat daaruit kom. Eet jou gebakte pere vir nagereg. Elke fout is slegs ’n trappie om die telbord te klim.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer