Briewe
Briewe

Vrees en onkunde

Mandy Rittmann
ROOI OLIFANT SKRYF:

Destyds op universiteit aan UNAM moes ons as studente van sielkunde elkeen 'n teorie kies om te verklaar hoekom Mike Tyson Hollyfield Hollander se oor tydens hul beroemde geveg in die kryt gebyt het. My keuse was Sigmund Freud se psigoanalise wat heel interessante gevolgtrekkings opgelewer het.

Net so kan ons ook vandag Sofia Shaningwa se uitbarsting tydens Swapo se massavergadering toe hul presidentskandidaat Nandi Netumbo Ndwaitwa, 'n ineenstorting op Otjiwarongo ervaar het met behulp van sielkunde met ietwat juistheid probeer verduidelik.

Die arme vrou se kwaai, swaaiende wysvinger, senuagtige, skril toon, aggressiewe, waarskuwende woorde, en houding en lyftaal, kon boekdele spreek: vrees en onkunde.

Haar aanval was tragies onsamehangend met die kandidaat se reeds leuenagtige toespraak en was seer sekerlik teenproduktief vir haar verkiesingsveldtog. Om sprake van toordery en hekse op 'n professionele forum van daai kaliber op te bring, is niks anders as 'n 'Hitleriaanse' uiting van vrees vir die onbekende (of bekende en verwagte?) nie.

Dinge word nou ál interessanter en meer belaglik namate ons nader aan die stembus beweeg: Swapo voer honderde ondersteuners vanuit ander dorpe vir vergaderings in, partye deel kos en erwe uit, Bernadus Swartbooi stap kamma in frustrasie van die verhoog af op Keetmanshoop, Michael Amushelelo en Benedict Louw bekeer na hul partye, Henry Seibeb verkoop sy stigtersreg vir 'n bordjie lensiesop, Amushelelo wil homself met water uitbrand en opoffer en gooi weer 'n vloermoer in China Town, UPM is in tweespalk gehul, PDM en kie word uit 'n duur reis na Suid-Afrika uitgesluit, ECN se sake word ál hoe maller, politieke partye belowe ons denkbeeldige goed wat net in Hollywood gebeur, die president hardloop soos 'n uitoogbok agter Ramaphosa aan, parlementslede daag nie vir 'n belangrike sitting op nie, NNN val flou. Sy gaan glo geld links en regs uitdeel. Iemand belowe selfs 'n eerste satelliet vir Namibië! Ek soek my stuk erf op die maan. Als dinge...

Maak maar die sitgordels vas my mense, want dinge sal nog gekker word. Stem tog wys en bly vêr weg van hulle met histeriese, psigotiese, paranoïese en neurotiese steurnisse. Ons benodig nie weer 'n ander 'Orwelliaanse' Hitler, Stalin, Mussolini, Amin of Mugabe van hul eie Animal Farm nie. En kom ons hoop niemand wen regtig nie. Soos in Suid-Afrika die geval vanjaar was, want dinge dáár spoel mos gewoonlik outomaties oor na ons.

Kommentaar

Republikein 2025-06-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer