Vergewe die tieners, hulle weet nie wat hulle doen

Sê maar net
Iréne-Mari van der Walt

Soms moet jy net na die dinge kyk wat voor jou oë gebeur en saggies vir jouself sê: “Heer, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

En ek het dié frase nog nooit so goed verstaan soos toe ek vanjaar teruggekeer het universiteit toe nie. Ek spaar jou die treurverhaal oor hoekom dit my sewe jaar geneem het, want om dit én die tragedie wat voor my oë afspeel saam te vertel, is bietjie meer as wat ek dink die meerderheid mense op ’n Dinsdag kan hanteer.

Ek was nog nooit een van daardie mense wat my vuis in die lug swaai en die kinders vervloek oor elke verskil tussen my en hulle nie. Maar hoe groter my drang daarvoor word, hoe meer besef ek dat die jare vinniger by my verbygejaag het as wat ek besef het. So laat asseblief hierdie ou tannie toe om te kla.

Ek dink my grootste klagte het eintlik niks met die jonger geslag te doen nie, maar eerder met die feit dat hulle in hul hordes verwag word om hier te wees – sodat hulle nie “agter raak” in die lewe nie.

Hier is waar my logika nie kan byhou nie: Op 18-jarige ouderdom kan jou brein nog nie jou interne ritme vir slaap behoorlik aanpas nie, jou impulse onder stres beheer nie of die langtermyngevolge van gebeure bepaal nie – maar ons verwag van hulle om te weet wat hulle vir die res van hul lewens wil doen en ’n waterdigte akademiese argument in daardie veld kan aanvoer.

’n Paar maande gelede was hul grootste probleem of die das by die matriekafskeidrok moet pas of nie en nou moet hulle die woorde en rasionaal van mense veel ouer, meer ervare en meer gekwalifiseerd as hulle inneem en verstaan.

’n Paar maande gelede het ons hulle nie met ’n bier in die hand of sonder toestemming in die gange vertrou nie, maar nou verwag ons van hulle om volwasse en rasionele mense te wees wat koelkop in ’n debat kan bly en verstandig genoeg gaan wees om vir klas op te daag.

Des te beter, daar is genoeg kinders wat van een land na ’n ander trek vir universiteit dat universiteite hele departemente net vir hierdie studente moet stig.

Hoe werk ons wiskunde dan dat ons ’n paar maande tussen ’n tiener en sy matriekjaar sit en skielik verwag ons dat hul breine nou lank genoeg in sy eie sous gelê het vir hulle om hul toekoms en hul vak se toekoms ernstig op te neem?

As alles goed gaan en jou brein is gaar genoeg gekook, kan jy teen die ouderdom van 24 ’n meestersgraad ontvang. Vier-en-twintig. Nog nie behoorlik ’n kwarteeu oud nie, en hulle is gekwalifiseer genoeg om die toekomstige werksmag op te lei. 

Waar was jy op 24? Wíé was jy op 24? Was jy in daardie stadium volwasse genoeg om vorm te kan gee aan die toekoms van die veld waarin jy werk?

Afgesien van dit, was jy op 18 volwasse genoeg om te besluit wat jy vir die res van jou lewe wil doen? Het jy werklik die nodige volwassenheid gehad om te kon volhard deur jou 11de navorsingsartikel of die 8ste bladsy van jou opstel wanneer jou hand pyn? Kon jy werklik die beste maak van die opvoedingsgeleentheid wat voor jou was?

As jy nou kon teruggaan, wat sou jy anders doen? Is hierdie stelsel ontwerp om die beste moontlike werksmag te skep of om kinders en jongmense besig te hou sodat hulle uit die samelewing se hare kan wees totdat hulle volwasse genoeg is sodat ons hulle in die oë kan kyk?

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer