Des Erasmus
Des Erasmus

Verborge rustigheid gevind

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Kom afstand, kom verlange. In verlange lê weer die toets vir die ontwikkeling van ’n mooi verhouding. Die toets daarvoor is weer lang winternagte wat nog langer word – nagte soos Dinsdagnag.



Uitvaltyd was daar geen probleme tussen ons twee nie. Die afskeid was miskien net te kort en te gevoelloos.



’n Enkele drukkie en toe’s ons weg van mekaar. Die nag het sy sagte dons oor haar kom gooi met my wat in die lig verdwyn het. Juis in daardie lig het die dwalinge van die duister begin. Twyfel het oorgeneem waar sekerheid tevore bestaan het.



En sy alleen in die koue.



Gaan die môre ontwikkeling op die goeie begin bring of gaan die nag beelde laat vervaag? Dit nadat sy met die groetslag “at ease” verseker het.



Onsekerheid word dikwels deur jaloesie van buite gevoed. Dit is deur werkgenote geplant wat met my wegstap beweer het ons twee verstaan mekaar nog nie so mooi nie. Hulle wou weet wat aangaan, want hulle het jou daar op kantoor kom soek, maar jou nie ­gekry nie. Later het hulle op ’n skuilplek afgekom, jou gekry en jou geroep. Maar daardie môre wil hulle met ons twee kom praat.



Die nag het ’n worsteling afgegee tussen onthou en vergeet. Los gesprekspunte het in die lug gehang en daar was so baie wat ek nog wou vra. Ek wou seker maak van ons twee se saamstappery na ander plekke in die gebou – plekke wat in ons liefde deel.



Tuis was daar vrae oor my stilte en die enkele vel papier met los notas waarna ek so vas bly kyk het. Alles was net enkele en los woorde as simbole van dit wat net ons twee weet.



Die opstaan was vroeër as gewoonlik, die aantrek met groter haas. Daar was geen spesiale voorbereiding soos op ’n beminde se koms nie, maar aards en by herhaling was daar die sekuriteit van ’n bril tussen baie papiere en dokumente. Dit was vir die keer wanneer ons mekaar behoorlik in die oë sou kyk. Toe het ek haar kom kry – steeds in die slaap van die nag wat sekerheid en die wete van die verborge rustigheid gebring het. Die opwekking was met ’n enkele drukkie, maar toe was daar baie grimering voor ons eerste gesprek. Hanteer my saggies, mikro-sag.



Ja, sy onthou die vorige dag en plek-plek is ek reg. Maar onthou ek sleg en roep ek haar op die verkeerde troetelname sal sy weier soos wat sy die eerste dag stil voor my gestaan het.



Maar ek moes aan haar ’n tydjie gee om haar reg te maak en seker te maak dat alles ingepak is vir ons volle dag se samesyn. In die proses het sy haar kartelings geswaai en met allerlei voorstelle gekom.



Aan my het die passies die geleentheid gegee om die sleutelwoorde van die vorige middag na te gaan en weer te deel.



Toe het sy gevra waaroor ons moet praat. Was ons gesprek van die vorige dag diep in die geheue bewaar, moet sy ’n opsomming gee van waaroor dit gaan, het ons mekaar gevind, moet ons dit as gesluit beskou of moet ons dit heropen.



Maak oop, het ek gevra.



En daar gaat ons.



Ek en hierdie nuwe rekenaarstelsel van DMH se koerantgroep gaan nog regkom.



Aangename kennis!



 – 19 Mei 1995



Kommentaar

Republikein 2025-07-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer