Thusie Gamibes
Thusie Gamibes

Trou is nie perdekoop nie

Wanneer is dit die regte tyd om te trou? Hoe trou ’n mens die eerste keer reg? Is daar ’n onfeilbare resep waarvolgens jy die regte lewensmaat kan kies?

’n Geraamde 95 persent van ons in Namibië is Christene en ek glo daar is immers ’n Bybel in elke huis beskikbaar om dit te staaf.

Nog nooit in my lewe het ek van soveel voorbeelde gehoor of gelees van mense wat voor ’n hof verskyn het om te skei nie. Ek het onlangs in ’n koerant gelees dat 1 200 mense in dieselfde maand geskei is. Ek moes dit nege keer lees om seker te maak my oë bedrieg my nie.

Alhoewel daar in die Bybel staan dat ons nie egbreuk moet pleeg nie, is daar dosyne gevalle van egskeidings, veral in Namibiese howe. Veral die kinders uit die sogenaamde huwelike word die ergste hierdeur geraak.

Iemand het die ander dag gesê om vir geld of ’n fisieke voorkoms (skoonheid) te trou, is die hoofrede vir die toestand waarin ons land tans is, en ek stem heeltemal daarmee saam.

Wanneer die skoonheid weens verskeie redes wegkwyn, kwyn die liefde ook stelselmatig weg of wanneer armoede intree, word dit ’n geval van die spreekwoordelike “as armoede by die voordeur instap, vlieg liefde by die agterdeur uit”.

Is dit as gevolg van jare se saambly, of is dit om mekaar net vir ’n kort rukkie te ken en volgende week te trou, of is dit ter wille van kinders dat ons trou?

Mense trou hierdie maand, dan hoor jy hulle is teen die einde van die jaar geskei. Is dit nie goed dat so baie van ons nog ongetroud is nie?

Wanneer iemand sê ek is al 40 jaar getroud, wonder ’n mens op watter planeet hierdie mense woon of is hulle albei engele (tong-in-die-kies-aanmerking). Trou is nie vir ons almal nie.

Wat my betref, ek wil niemand blameer nie. Want hoe weet ’n mens wat alles in die toekoms kan gebeur of wat in die toekoms kan verander?

Vir ’n buitestander soos ek is dit maklik om getroude paartjies te oordeel, maar ek dink dit verg baie om ’n ring te dra ten spyte van al die uitdagings, terugslae en ontberinge.

Die spreekwoord sê mos “trou is nie perdekoop nie”.

Ek stem volkome daarmee saam.– [email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-09-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer