Treë op pad na die toekoms

Ek sê maar net 30 jaar gelede
-

Thia Weck – Al langs die soom van die see lê die twee rye voetspore. Met wye draaie soos sommige branders ver uitgespoel het en weer terug na waar die see traer was.

Twee groot voete druk ’n ferm spoor met die hakke na mekaar en die tone doer gedraai. Twee kleiner voetjies trap ’n effespoortjie langsaan.

Hier het hulle gaan staan, kan ’n mens sien. Spore trap bo-oor mekaar. Dalk gesoek na ’n skulpie. Of sommer net gestaan en kyk na die oggendson oor die blink en kalm see.

Dan begin die twee rye voetspore weer koers kry na mekaar en vorm kort voor lank ’n enkele viervoetspoor wat die kurwes en draaie van die seesoom volg.

In die baai begin die spore na die duin se kant toe swenk. Met skrefies-oë teen die son kan ons net-net uitmaak dat die spoormakers hulle teen die duin tuisgemaak het. En neerplof in die sand lyk ook skielik na ’n goeie opsie. Daar is ’n gewydheid in die môrestilte. Die lug is nog blouer as die see. Ons praat nie juis nie. Lê net op die sand en geniet die son se warmte en die nagkoel sand.

Ek hoor hulle lag.

Al die pad met die duin af tot by die see lag hulle en kyk in mekaar se oë en hou vas.

Ek glimlag vir die twee se wafferse dapperheid om die see dié tyd van die oggend aan te durf.

Maar hulle voel nie die koue nie. Staan halflyf in die water en spat mekaar nat soos verspotte kinders. ’n Brander gooi haar effens van balans af. Sy gee ’n benoude gilletjie, maar hy is gou byderhand om haar regop te help. Sy proes van té veel mondevol seewater en hou laggend aan hom vas.

Lank staan hulle so. Die branders om hulle gaan voort om te breek en op die sand uit te spoel, maar saam verloor hulle nie balans nie.

Later kom hulle uit die water gestap. Hy buk en tel ’n skulp op. Draai terug na die see en spoel dit sorgvuldig af voordat hy die kosbare geskenk aan haar gee. Sy glimlag en vou dit in haar hande toe.

Ons kyk hoe hulle die pad teen die duin op vat. Sy gaan sit op haar handdoek terwyl hy voor haar kniel en begin om haar versigtig af te droog.

Van die beaarde hande wat sy moeg na hom toe uithou tot die rimpelbene en haar nat, grys hare wat hy liefderyk uit haar gesig vee. En deurentyd kyk sy na haar man met iets soos verering in haar oë.

Hy vou die handdoek sag om haar skouers. Hulle loop hand aan hand tot onder voor hulle ingehaak die pad huis toe vat. Uiteindelik bly daar weer net die twee rye spore langs die see oor. Spore gemaak deur voete wat ken van saamstap.

Ek kyk hulle agterna en wil nie ophou kyk nie totdat die twee stippeltjies in die verte verdwyn.

Die man in my lewe kyk na my en spreek die woorde wat ’n geruime tyd in die verte verdwyn.

So wil hy sy lewe saam met my begin, sê hy. Net só. Avontuurlike dinge saam aanpak soos in die oggend in die yskoue see gaan swem. Hande vashou en mekaar koester. En nooit toelaat dat dit êrens langs die pad verlore raak nie.

Só, sê hy, wil hy ook saam met my oud word.

Die son sit al hoog as ons opstaan en die sand afskud. Hy hou my hand styf in syne soos ons langs die see afstap en ’n eie ry voetspore begin. – 17 April 1996

Kommentaar

Republikein 2026-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer