Totaal en al
DIETER IAN MAREE SKRYF:
So vertel hy my van die afreeoord naby die wingerde. “Deesdae het die plekke sulke mooi Latynse name wat rus, vrede en kalmte deurgee.”
En ’n berg daar iewers wat swygend oor alles waak.
“Dan is daar ’n golfbaan, ’n spa en ’n buierige dieetkundige met blou crocs.”
Dit is die uiterlike, maar al hierdie tierlantyntjies waarmee afgetredenes gelok word, vertel niks van die innerlike worsteling ná 75 jaar op hierdie aarde nie.
“Nee,” sê oupa, “. . . tussen al die aktiwiteite en natuurskoon kom daar ’n oomblik waar ’n paar onverwagse vrae aandring op antwoorde. Waaroor het dit nou eintlik gegaan, watter tipe man was ek vir my vrou, watter tipe pa was ek vir my kinders. . . ens.?
“Die antwoorde kom soms sonder ritme of grasie wat natuurlik die laaste bietjie harmonie en vrede versteur.”
Met geboë hoof, hande gevou en artritisvingers wat liefdevol ’n troupand streel, word ’n huwelik van 53 jaar geëvalueer. Die gedagte van ’n seun of dogter wat te vroeg aan die dood afgestaan was, is onafwendbaar en vorm onwillekeurig deel van die daaglikse roetine.
Verwyte word op ’n veilige afstand gehou totdat hulle self besluit om nader te skuif terwyl die ongeskrewe kluitklaplys iewers onder die dahlias langs die ruim tweeslaapkamerwoning verlede naweek begrawe was.
Die titels wat respek, agting en soms vrees ingeboesem het, is 13 jaar gelede aan die beroepswêreld en aan die kerk terugbesorg sonder enige waardering of noemenswaardige bydra tot die mensdom.
“Eeueoue patrone en verpligtinge of wie se idee was dit in elk geval?”
’n Nadoodse ondersoek sal bepaal wat die oorsaak was, maar hoe bepaal ’n mens waar en wanneer jy begin sterf het terwyl jy nog gelewe het?
“Dis hoekom ons hier is!” sê oupa met ’n kyk wat oor dekades strek en wat weier om deur berge, riviere of ’n ondeurdringbare sekuriteitsomheining ingeperk te word.
“Ek was bang,” fluister hy saggies vir die wind terwyl ek ’n oproep beantwoord.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie