Sinus en sooibrand

Wiesie sê maar net
Mandy Rittmann
Met die werksdruk wat hier na die einde van die jaar begin toeneem, styg die bloeddruk tradisioneel saam met die kwik in die termometers. . . Ek sien uit na die einde van my swangerskap aangesien ek tans een van Gaviscon se grootste verbruikers is en in die tussentyd met meer weersin as opwinding kyk na al die bome in blom. Veral wanneer die windjie die toenemende hitte vir ons so mooi onder beheer hou. Dán gaan dit éérs goed met die alreeds onbeïndrukte sinuskanale. . .

My gewone positiwiteit sukkel ’n bietjie teen al die faktore van hierdie tyd van die jaar. Ek moet eerlik bieg dat ek, soos ek almal rondom my ook kan hoor, word sterk uitgedaag om nie moed te verloor nie. Veral om nie vir daardie spesifieke moeilike persoon wat oor jou pad gestuur word en wat jou lewe moeiliker maak as wat dit alreeds is, PRESIES te vertel wat jy van hulle dink nie.

Vandag het ek nie eers ‘n stukkie bemoediging of ‘n bybelvers byderhand nie, vandag IS ek net. En probeer om humor te vind waar daar tans g’n is nie.

Die beste van alles is toe my liewe man nou die dag aanbied om by die apteek aan te gaan namens my en ek ‘n oproep nie lank daarna ontvang nie. “Watter geur Gaviscon verkies jy?” Dit maak regtig nie vir my saak nie. Dankie dat jy namens my by die apteek aangaan.

“Die apteker sê jy moet die anysgeur-ene kry omdat dit ’suitable for pregnancy’ is.” Anysgeur is my gunsteling! Not! By die huis het ek so pas uit desperaatheid die oorblywende bottel gewone Gaviscon opgebruik wat ons gehad het – (soos met die twee vorige swangerskappe) sonder om eens bewus daarvan te wees dat daar ’n produk op die mark is wat genaamd ’suitable for pregnancy’ is nie. Ek dog Gaviscon is in beginsel ’suitable for pregnancy’ dis hoekom ek nog die heeltyd daarvan drink. Die volgende vraag: “Hoe groot bottel moet ek vir jou saambring?” Aangesien ek nie in persoon die situasie kan meet nie: “Die kleiner een asb.”

‘n Week en ‘n half later is ‘die kleiner een’ op en ek vind myself in die apteek voor die rak met die Gaviscon ’suitable for pregnancy’. Daar is sowaar ‘n reuse-bottel van 500 ml op die mark! Vir ‘n oomblik het ek die som gedoen – dis die beter waarde vir geld en hoe vinnig in hierdie maand sou ek weer voor die rak te staan kom teen die spoed wat die Gaviscon tans gebruik word? Ek stap maar toe met twee klein botteltjies daar uit (bemarking wen alweer – want wie de joos wil ‘n 500 ml-bottel medikasie saam met hulle heen en weer karwei?).

Ek voel tans soos die lopende natuurlike apteek vir al wat ‘n persoon met ‘n kwaal – my kollega het begin sleg voel na ’n pizza op die lang pad en siedaar, het ek Gaviscon aan te bied en die probleem is in ‘n kits opgelos. Sinusprobleme? Soutwater neussproei! Nie dat ‘n mens so ‘n produk met enigiemand deel nie. Droë keel van ‘n aanhoudende sinus slymdrup in die keel? Suurlemoen en rooibostee met heuning in. Ek dra dit pal saam met my rond. Maar pasop vir jou – die sooibrand en daardie suurlemoen sit nie om dieselfde vuur nie! Matigheid voor oë, want anders veroorsaak die een oplossing die volgende maagsuuraanval.

So gaan dit. Is dit vreemd om met dankbaarheid in jou hart vir die swangerskap, te begin uitsien na tye wanneer ‘n mens net ‘n Sinutab kan drink en jou sinusprobleme opgelos is vir die volgende 24 uur? Ek onthou die verligting na die vorige swangerskap om skielik te besef ná baba se geboorte dat ’n mens weer kan slaap, kop hoog, kop laag, sonder enige dreigende ongemak in die middel van die nag hier uit jou spysverteringsgebied uit. . . ‘Geniet die seisoen’, sê hulle – met alle liefde en respek – ek doen my bes hierso. Met liefde en hoop op beter tye. Seën tot volgende keer! – Gasskrywer

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer