Roetine
Destyds, kort nadat ons plaas toe getrek het, het ek een dag saam met my boer veld toe gery. Terwyl ons ruk en skud oor die kalkklippe soos ons die kampe kruis en dwars ry om die veld te leer ken, het ek hom so uit die hoek van my oog dopgehou. Daar was iets anders aan sy gesig. Daar het ’n nuwe sagtheid om sy oë gelê. ’n Kalmte. Ek het hom ’n hele rukkie so gesit en beskou. Toe vra ek vir hom of hy gelukkig is hier op die plaas. Ekself was nog onseker oor my gevoelens oor hierdie plat, droë, warm stuk aarde. Die suide van Namibië was vir my soos Mars. Ongenaakbaar en onbewoonbaar. Ek is nie van hier nie. Ek hou van groen en water en ’n hoogtetjie so hier en daar. Hierdie wit aarde met die baie klippe was te hard vir my siel. Wederhelf het glimlaggend na my gekyk en gesê ja, hy is. Toe vra ek hom hoekom. Hoekom is hy?
Kyk, ek weet ’n mens se wortels anker diep en daar bly altyd ’n stukkie oor al probeer jy hoe hard om hom uit te trek en te verplant, maar dit het vir my gevoel hierdie vrede loop dieper as worteldiep. Toe sê hy, hy hou daarvan dat sy tyd nou sy eie is. Niemand sê vir hom wanneer hy waar moet wees en wat hy moet doen nie. Toegegee, dit was nogal lekker. Dit het soos vryheid gevoel.
Daardie euforie het egter nie lank gehou nie. Plaaswerk is harde werk. Elke dag. Naweke en vakansies was iets wat ons in Windhoek agter gelaat het. Boere ry nie sonder ’n baie goeie rede weg van die plaas nie. Vakansie is beslis nie ’n goeie rede nie. Nog minder ’n baie goeie rede. Gou-gou het ons maar weer in roetine verval. Elke dag was daar spesifieke goed wat op spesifieke tye moes gebeur. Ons het maar net ons ou base ingeruil vir nuwes. Hulle name was nou Skaap en Bok, en hulle betaal nie salarisse nie. (Ek kry nou nog elke 20ste van die maand heimwee.
Die werkers ken ook die plaas se roetine baie goed. Hulle weet presies watter dae moet watter pligte uitgevoer word. Maandae is lyne ry en die gate in die draad regmaak, windpompe vasmaak, krippe skoonmaak en lek gee, ens. So het elke dag van die week goed wat gedoen moet word. Dit klink dalk soos kleinighede, maar as jy nie die klein goedjies gereeld en reg doen nie, loop die groot goed later verkeerd. Gate beteken jakkalse wat jou hele boerdery in ’n oogwink opvreet, pompe mors water as dit nie vasgemaak word nie, en watter groter sonde is daar as water mors? Lek onderhou die diere sodat hulle kondisie beter is en jy beter pryse kan kry, ensovoorts. Maar nie almal besef die noodsaaklikheid hiervan nie. Maar dit gebeur dikwels dat, voor jy nog by die bakkie kom, die werkers al besig is om die lek en grawe te laai. Hulle weet mos.
Eendag hoor ek toe die storie van Oom Francois wat op Waagkraal geboer het. Hy het vertel dat hy een Maandagoggend by die bakkie gestaan en wag het vir die werkers. Een van die manne, Ou Gert, het taamlik lusteloos nader gestap en nukkerig vir Oom Francois gevra wat hulle dan nou vandag weer moet doen. Die dag het duidelik droewig en blou voor hom uitgestrek. Oom Francois vererg hom toe so effe, want sowaar! Ou Gert moet mos darem teen die tyd weet? Hy sê toe vir hom: “Ou Gert, jy werk al jare hier saam met my en behoort nou al te weet. Maar kom ons sê nou hierdie was jou plaas, en ek het vandag vir jóú gewerk, wat sou jy vir my gesê het moet ons vandag doen?”
Ou Gert het sy elmboog op die bakkie se enjinkap gesit, een voet agter die ander een ingevou en vir ’n rukkie gestaan en rondkyk. Toe vryf hy oor sy ken en sê: “Aag, sommer ook enige onnódige werk!”
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie