Outjo Sekondêre Skool (1959-1963) – Deel 2
GERRIE ALBERTS SKRYF:
VRIENDSKAPPE WAT GEBLY HET IN HERINNERING
My boesemvriende was Johan Grobler (bynaam “Wapad”), Attie Esterhuizen en later Johan Botha, bekend as “Long John” vanweë sy lengte. Sedert skoolverlating het ons ongelukkig kontak verloor. Indien enige van julle en die matriekklas van 1963 hierdie lees, laat hoor asseblief van julle – my e-posadres is: [email protected].
’N DONKER DAG
Ons skool het ook ’n baie tragiese dag beleef toe Freddie Siemens selfdood in die koshuis gepleeg het. Dit het almal diep geruk. Ek kan nie die presiese jaar onthou nie, maar die skok en hartseer sal my altyd bybly.
Ná SKOOL: WEERMAG EN LOOPBAAN
In ons matriekjaar moes ons registreer vir weermagopleiding. Ek het die Lugmag gekies, aangesien ek ’n valskermsoldaat wou word. In Januarie 1964 het ek by die Valhalla-lugmagbasis in Pretoria aangemeld. Die dissipline was ’n groot aanpassing – die korporale het ons streng hanteer en taal gebruik waaraan ons nie gewoond was nie. Ná drie maande se opleiding is ek egter weens my voete medies ongeskik verklaar en huis toe gestuur – iets wat my baie teleurgestel het.
MY LOOPBAAN BEGIN
In April 1964 het ek by die Poskantoor in Outjo begin werk, onder leiding van mnr. Boyce van Staden. Sy vrou het my gehelp met opleiding.
In September 1964 is ek na Walvisbaai verplaas en later, in Desember, na Oshakati in Ovamboland.
Dit was ’n klein drie-man-poskantoor waar ek waardevolle ondervinding opgedoen het. Ek het aan die Posmeester in Ondangwa gerapporteer. Ons het gereeld die Kunenerivier besoek en naby die indrukwekkende Ruacana-waterval gekamp. Die natuurskoon het my diep geraak, en op 1 November 1965 het ek ’n Ode geskryf getiteld Ek – Indrukwekkende Skoonheid – die begin van my latere skryfloopbaan.
GESINSLEWE
In 1966 is ek na die Poskantoor se Hoofkantoor in Windhoek verplaas. Kort daarna het ek by TrustBank aangesluit in die versekeringsafdeling – die begin van ’n 48-jarige loopbaan in die korttermynversekeringsbedryf. Daar het ek vir Steffie Marais ontmoet. Ons is op 6 Mei 1970 getroud. In 1973 is ons na Johannesburg verplaas en het ons ons in Kempton Park gevestig, waar ons 41 jaar gebly het.
Ons dogter, Yolindè, is in Windhoek gebore en ons seun, Gerrie Junior, in Kempton Park.Ons is gesëend met tweeling-kleinseuns van ons dogter. Hulle is Pieter en Gerhard en 29 jaar oud.
AFTREDE EN SKRYFWERK
Ek het op 28 Februarie 2014 afgetree. Aan die einde van 2015 het ons na Pretoria verhuis en woon sedertdien in Prestige Park Aftreeoord.
Dit is hier waar ek ernstig begin het met skryfwerk – veral in die velde van geestelike, morele en politieke temas in Suid-Afrika. Ek het reeds sowat 60 e-boeke en essays geskryf, waarvan ongeveer 40 gepubliseer is op Facebook onder: Gerrie Alberts – Author of eBooks and Essays.
Van my werke sluit in:
– Wanneer die Sterk Manne Krom Word
– Morele Verval en Misdaad: Gewortel in die Huishouding
– Jy is Uniek
– Look at Nature: A Perfect Role Model for Society
– War Against God in South Africa
– I Am Gay
– Is Your Government God-Fearing?
– Live a Life of Integrity
SLOTGEDAGTES
Ek is nou 81 en Steffie 80 jaar oud. Wat kan ons sê na al die jare? Ons is 55 jaar getroud deur die Genade van Bo. Die ouderdom druk en maak seer, maar tog kan ons die Here nie genoeg dank vir Sy goedheid, guns, seëninge en genade wat ons elke dag ontvang nie.
Ek sluit af met die tydlose woorde van The Irish Blessing:
May the road rise to meet you,
May the wind be always at your back,
May the sunshine warm upon your face,
The rain fall softly upon your fields,
And until we meet again,
May God hold you in the palm of His hand. – Einde
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie