Outjo Sekondêre Skool (1959-1963) – Deel 1

Lesersbriewe
Gerrie Alberts

GERRIE ALBERTS SKRYF:

Anita Bester se terugblik oor Outjo Sekondêre Skool het ’n golf van nostalgie by my wakker gemaak. Ek was van 1959 tot 1963 ’n leerling daar en het in 1963 gematrikuleer – ons klas was die eerste matriekgroep van Outjo Hoërskool. Tyd gaan inderdaad vinnig verby; dit is moeilik om te glo dat dit reeds 63 jaar gelede is dat ek my matriek voltooi het. 


AGTERGROND

Ek is ’n afstammeling van die Dorslandtrekkers. My Grootoupa, Gert Andries Jacobus Alberts, was die leier van die eerste trek wat Pretoria in Mei 1874 verlaat het. Ek en my seun dra sy name met trots. My ouers, Flip en Marie Alberts, het op die plaas Bosveld in die Biermannskool-omgewing geboer. Ek en my jonger broer, Johan, het daar grootgeword en ons laerskoolopleiding by die Biermannskool ontvang. 


SKOOLJARE OP OUTJO

Dit was ’n voorreg om by Outjo Hoërskool te gaan – ’n skool met onderwysers wat ons nie net akademies gevorm het nie, maar ook sterk morele waardes en lewensbeginsels by ons ingeskerp het. 

Ek het in 1959 as ’n standerd 6-leerling by Outjo Sekondêre Skool aangesluit. Sover ek kan onthou, was mnr. Mynhardt destyds die skoolhoof. My herinneringe aan daardie eerste jaar is vaag, behalwe vir die ontgroening wat soms maar moeilik was. Ek was nie baie sportief nie, maar het aktief aan volkspele deelgeneem – iets wat vir my baie aangenaam was. Ons het gereeld opgetree en ook teen ander skole deelgeneem. 


KOSHUISLEWE EN SATERDAE

Ek was ook in die seunskoshuis. Saterdae was altyd ’n hoogtepunt, want dan kon ons dorp toe gaan. My eerste stop was gewoonlik Borg se kafee in die hoofstraat, waar die vleispasteitjies en ’n koppie koffie die perfekte begin van die dag was. Ek het ook altyd my broeksakke vol Wilson-toffies gekooOorkant die straat was Weimann se garage, waar my pa sy Ford-bakkie laat diens het. Van daar het ek verder afgestap tot by Schmittenger se kafee, bekend vir sy heerlike Fanta-floats – ’n ware bederf voordat ek terug is koshuis toe. In die somer het boere ons soms kom haal om met die mielie-oes te help. Ek het nooit dié geleentheid laat verbygaan nie – dit was lekker om uit die koshuis te kom, ’n goeie bord kos te geniet en ’n bietjie sakgeld te verdien. 


’N ONVERGEETLIKE NASIONALE GEBEURTENIS

Toe Suid-Afrika op 31 Mei 1961 ’n Republiek geword het, het ons deelgeneem aan groot vieringe in Bloemfontein. Ons was betrokke by ’n massagimnastiekvertoning op die rugbyveld – honderde, moontlik duisende kinders. Dit was bitter koud. Ons het kaalvoet op die ysige gras gestaan, en wanneer ons nie opgetree het nie, het ons styf teen mekaar op die pawiljoen gesit, toegedraai in komberse. 


ONDERWYSERS WAT ’N VERSKIL GEMAAK HET 

In my matriekjaar onthou ek die volgende onderwysers: 

– Mev. Opperman (Duits) – ’n briljante onderwyseres wat my liefde vir Duits aangevuur het. Tot vandag toe kan ek nog darem sê: “Ich liebe dich.” 

– Mnr. Opperman – die skoolhoof en haar eggenoot 

– Mnr. Myburgh – adjunkskoolhoof. Sy bynaam was 

Willem Links 

– Mnr. Steenkamp (Afrikaans), bynaam “Gol” 

– Mnr. Potgieter (wiskunde) 

– Mnr. Liebenberg (geskiedenis) 

Ek kan ongelukkig nie onthou wie vir my Engels en aardrykskunde gegee het nie. 

Ek onthou ook mnr. Koerie Theunissen, waarskynlik die oudste onderwyser, met sy kenmerkende kaal kop en kort gestalte. Hy het glo Boekhou gegee en was bekend vir sy groen Studebaker Lark-bakkie. Daar is vertel dat hy lief was vir vinnig ry – dalk die rede vir sy gereelde ritte Swakopmund toe. 

Nog ’n geliefde onderwyser was mnr. Sampie Pretorius, wat my in standerd 8 geskiedenis geleer het. Hy was altyd vol humor en baie gewild onder die leerlinge. 

– Vervolg


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer