No Image Caption

ONS TAAL

Te klip om te boom
Mandy Rittmann
Gelukkig hou ek van klippe. Ek woon op ’n mikabank, in ’n dorp waar daar nie eintlik water is vir tuinmaak nie. Daarom maak ek meestal tuin met klippe. Rangskik mooierig die klippe met hier en daar ’n vetplant tussenin. Paadjies van hout en boombas. My seehuis se voortuin is ’n klippietuin – en dateer uit my alleendae daar tydens my studieverlof. Mediteer en klippatroontjies uitdink in plaas van lees oor lees. My man is al moedeloos as ek weer eens ’n klip of twee optel en wegsteek onder my sitplek op ons reise. Langs die see tel ek en my kleinkinders graag klippies op, een dag net wittes en dan weer daardie roesbruines met kolletjies. Ek weet ek mag nie eintlik meer klippe langs die strand optel nie. Daarom maak ek maar (soms) my emmertjie leeg as ons van die viswaters af huis se kant toe staan en geniet die “torra” as die branders terugtrek. Landskappe van klip is vir my oneindig mooi. En daarvan is in my land baie. Ek stap graag tussen reusagtige rotse en klipformasies op die Waterberg, Erongo Rocks en Namibgrens. Hier is ’n skeur waardeur jy kan loer, daar ’n reusesampioen waaronder jy kan rus. Antjie Krog se “narratief van klip” beskryf ongeëwenaard die “olifantvelverwering” op dolomiet, en doloriet wat “soos donker tandepasta die aardkors inpeul”. Oeroue kliplandskappe – eeue gelede gestol en verskuif – word steeds daagliks gevorm deur wind en weer. Laat my ontroerd saam met Opperman besef: “voor boom kan boom/ moet klip eers klip/ en klip teel swaar/ glo miljoene jaar.”

Emma Kirchner

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer