No Image Caption

Ons taal

Nie alle boekwurms is bleeksiele nie
Diegene wat my ken, weet spesifieke twee dinge van my – ek is mal oor lees en ek is ook gek daaroor om spesiaal aan te trek vir geleenthede.



Onlangs was ek bevoorreg om dié twee voorliefdes van my te kombineer toe ek as Bennie Boekwurm kon aantrek vir ’n werkswinkel waar ek een van die sprekers was.



Tydens my inleiding het ek die gehoor gewaarsku dat ek ’n geesdriftige leser is, maar nie graag praatjies lewer nie. Gelukkig het my toespraak ruimte gelaat vir voorlesing en kon ek behoorlik gestalte gee aan my gekose karakter.



Hoewel ek opgewonde was om te kon aantrek en onmiddellik in my kas gaan krap het vir die ideale uitrusting, moes ek ook bietjie dieper delf om my uitbeelding geloofwaardig te maak; so uiteraard het ek die taalbronne geraadpleeg. . .



Ek word graag vereenselwig met die gesegde wat genotuleer is by “boekwurm”: Sy is ’n boekwurm wat alle leesstof verslind. Ons verkry dit vanuit Nederlands – “boekenwurm”, wat gedefinieer word as “’n ywerige leser wat sy kop pal in ’n boek inwurm”.



Verwante woorde wat gelys is, is: boekevreter, boekgeleerde, letter­vreter, bleeksiel, vervelige vent, dooierige persoon, tuisblyer, intellektueel, leser en student. Ek sal met trots met elkeen van bogenoemde woorde beskryf word, behalwe bleeksiel, vervelige vent en dooierige persoon.



Ja, ek geniet dit om soms met Jan Tuisbly se karretjie te ry en boeke te verslind, maar ek is ook avontuur­lustig as dit my te beurt val. Beskuldig my daarom liewer daarvan dat ek te bont en borrelend is as wat ek bleek en vaal is.



Elzeth Harmse



Afrikaansonderwyseres



[email protected]* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.



Kommentaar

Republikein 2025-10-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer