No Image Caption

Ons taal

Het jy geweet die woord ‘haarne’ bestaan nie?
Gister kom my dogtertjie dood­ernstig na my toe met mondjie op tuit en ’n frons tussen die blou ogies. Sy kom haar pa verkla.



Hy het gesê die goeters wat aan my behoort is “hare” en dis (­volgens haar) verkeerd. Iewers het ’n­ vori­ge aanmaning van my oor hierdie vroulike besitlike voornaamwoord by haar vasgesteek, al kon sy nie mooi onthou presies wat die korrekte vorm was nie.



Terwyl sy met my praat glimlag ek vir die spieël waarin ek kyk, hierdie dogtertjie aard beslis na my, ’n klein “Grammar Nazi” in wording. Net jammer dat die maatjies se menings tans swaarder weeg as haar ma s’n, want ek moes mooi verduidelik dat haar pappa eintlik reg is en dat “haarne” soos haar maatjies dit gebruik, eintlik verkeerd is.



Natuurlik het ek nuwe konflik by die kleuterskool sien kom, so ek het vir die wis en onwis die juffrou in kennis gestel (heimlik in die hoop dat sy die kinders ook daarop attent sal maak).



Toe ek as onderwyser in Windhoek begin het, het hierdie verwronge besitlike voornaamwoord my opgeval, sedertdien het ek dit al meer opgemerk, by kinders, volwassenes, my studente en selfs ook by onderwysers.



Dit wil voorkom of Afrikaans­sprekendes die “-ne” in die besitlike voornaamwoord “syne” verkeerdelik beskou as ’n agtervoegsel wat besitting aandui, soortgelyk aan die Engelse toevoeging van die “s” “Tom’s” wat (dalk toevallig) ook in die besitlike voornaamwoorde “his” en “hers” aanwesig is.



Die “-ne” in syne is egter ’n oorblyfsel van die Nederlandse besitlike voornaamwoord “zijn” en in Afrikaans het ons dus ook die Nederlandse vroulike besitlike voornaamwoord “haar” behou. Die verbuiging met die toevoeging van die -e word gebruik in konstruksies soos: “Dit is haar boek, die boek is hare, nie syne nie.”



Daar bestaan dus nie ’n woord soos “haarne” nie. Al hierdie dinge kan ek natuurlik nie vir my dogtertjie so verduidelik nie, so ek moes haar maar net oortuig dat ek ’n bietjie meer weet van Afrikaans as taal as haar maatjie.



Annika van der Linde



Vakgroep Afrikaans



Universiteit van Namibië



[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer