No Image Caption

Ons taal

Roei, al moet jy met jouself daaroor stoei
Een van my goeie vriende het verlede jaar vir my waardevolle raad gegee: Doen elke jaar ten minste een ding wat jy nog nie voorheen het nie. ­Hoewel vanjaar reeds etlike “eers­tes” ingesluit het, is een van die grootste eerste gebeurtenisse wat my te beurt geval het, om die Oranjerivier te kon roei.



Met die opsoek van “roei” op die VivA-app (Virtuele instituut vir Afrikaans), leer ek toe sommer op die koop toe nog twee Afrikaanse woorde, naamlik “wrik” en “pagaai” – wat beide as verwante woorde by roei gelys is.



Onder “wrik” word by die tesourus genoem: reëlmatig beweeg, roei, swak wees. Ek het egter na dese besef krag of sterkte is egter wat jy benodig om te kan roei – jy moet dus liefs nie swak wees nie. By “pagaai” se tesourus is: roei, roeier, roeispaan.



Die app bevat ook gesegdes by “roei” en “pagaai”: Roei met die rieme wat jy het. (Gebruik wat jy tot jou beskikking het.) Asook: Die bootsman het hulle aangeraai om net te pagaai. (Hy het hulle aangeraai om stadig en versigtig te roei.)



Wat het die vier dae op die Oranjerivier my egter geleer? Les 1: Dis een van die mooiste dele van Namibië en Suid-Afrika – daardie ongerepte natuur­skoon sal menige skrywer na hul pen of skilder na hul verfkwas laat gryp. Les 2: As jy hier of in die buurland woon, fiks en gesond is, is dit iets wat jy gerus op jou doenlysie kan byvoeg. Les 3: Jy hoef nie voorheen al geroei het nie, jy moet net weet wat is die verskil tussen links en regs. Les 4: Dis nie nodig om die avontuurlustigste persoon te wees nie – wees net waaghalsig genoeg om vir ’n paar dae uit jou gemaksone te beweeg.



Die voor die hand liggendste les was seker dat water baie magtiger is as wat dit op die oog af lyk. Moenie die rivier onderskat nie en luister na die gidse; hulle het jare se ervaring en weet waarvan hulle praat. Hoewel ek gelukkig was dat my boot nooit omgetiep het nie (ook natuurlik danksy ’n goeie spanmaat of dalk eerder spaanmaat), het ek gesien hoe maklik selfs ervare roeiers in die water kan beland.



En die laaste les; wat nie net vir die rivier geld nie, maar sommer ook vir die daaglikse lewe: Al is jy hoe poegaai, gryp die spaan en pagaai voort!



Elzeth Harmse



Afrikaansonderwyseres



[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer