Ons taal
Voetlangs
Of my liewe vriendin Chrisna se briewe al by haar ma aangekom het, weet ek nie, maar ek glo vas dit het gehelp om die stilte te demp.
Daai einste stilte wat laasweek vir my gewag het op my Pa Fanie se stoele – die een voor die TV waar hy so luidrugtig rugby kon kyk. . . die een aan eettafel waar sy mooi stem vir ons die seën moes vra. . . die een onder die skaduboom in sy binnehof waar hy die voëltjies sou nooi na ’n feesmaal van beskuitkrummels. . . en die een in sy grot waar hy sy foto’s planmatig beraam en sy verse nog fyner gebeitel het. Hy kon, en moes, en sou, en het, maar nie meer nie.
Voor die leemte my kon wurg, het ek uitgestap see toe, kaalvoet maar haastig, asof ek bang was ek kom te laat. Daar was mense, maar dit was leër as ooit. Ek het gaan sit, daar waar die branders die afgelope tyd ’n hele stuk van die strand weggeruk het, sommer so plat op die sand, soos ’n kind, maar wéés. Nie my ma of my pa was daar om my toe te vou nie, tog was die herinneringe soos ’n groot woordhanddoek om my. Soos jare gelede, toe al twee nog hier was, wat hulle vir my Helmut Lotti se “Don’t cry little child” gespeel het.
Nou is ek terug in my eie huis. In die badkamer hang sy fotovers van ons Engela wat as kleine peutertjie laggend klou aan haar pa se been, soos ek ook destyds het. En ek hoor my pa se woorde: “Ek wil jou weer, op my voet, voel sit en lag, veral vandag.”
Petronella F Genis
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]
Woordspoor op Kanaal 7

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie