No Image Caption

Ons taal

Afrikanerkultuur
Dis in my bloed, gees en vlees. Dit vorm en maak my. Dis die mengelmoes van my verlede wat deel is van my menswees en hede. Dis daai handgroet en “oom” en “tannie” sê. Dis daai diepgewortelde tradisies wat die hartklop van my kultuur is. Dis daai spesiale resepteboek met my ma se handgeskrewe resepte waar haar liefdevolle hande se vingerafdrukke ’n storie van generasies vertel. Melktert, koeksisters, souskluitjies en sagopoeding was om die beurt ’n spesiale soetigheid. Nader getrek op ’n reënerige dag vir heerlike pannekoek met soetkaneel. Dis daai waatlemoenfees wat die nuwe jaar afskop met ’n goeie gees. Dis daai jaarlikse potjiekos-ken-­mekaar-kompetisie. Dis daai koue wintersdae waar die reuk van gemaalde koljander en naeltjies my bedwelm, terwyl die wors by die worsstopper uitwurm. Die jaarlikse vleisbewerking vul die vrieskaste met droëwors en biltong. Die kersie op die koek, die uitgebraaide kaiings en gesmeerde vet en goue stroop-toebroodjie ná ’n lang dag se werskaf.



Saterdagaand se braaivleis, braaibroodjie en rugby sal by my bly. Dis daai Kersfees wat ’n hele weermag kan voer, en familie wat smul vir dae aan skaapboud, beestong, frikkadelle en vele meer. Dis daai liedjies, rympies en geselsies om die vuur wat vir altyd moet duur. Dis oor eeue gevorm en oor geslagte heen bewaar. Dis my trots en lewensaar. Ek omarm my geskiedenis wat my toekoms omvou en my identiteit behou. My unieke Afrikanerkultuur sal ek lewendig hou en ewig aan klou.



Adéle van Niekerk



Vakgroep Afrikaans



Universiteit van Namibië



[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer