Ons soek nog Die Mystic Boer
Toe ek jonger was, het ek my vir Afrikaans geskaam. Ek was bang om as té Afrikaans beskou te word, om té veel Afrikaans te praat en om té diep in die wese van my bestaan te delf om uit te vind waarvandaan ek kom.
Dit was eers ’n paar maande gelede toe ek besef het dit was nie skaamte oor die feit dat hierdie taal en haar mense deel van my wese is nie en ook nie omdat ons die taal, haar mense en haar verlede nie kan vereenselwig nie. Ek dink ons het eenvoudig net nie die woorde om te praat oor die dinge waarvoor ons taal eens gestaan het nie en daarom doen ons dit nie.
Ek het hierdie jaar besef my skaamte vir die taal spruit nie uit dit wat ons sê nie, maar dit wat ons nie sê nie. Die dinge wat ons met groot oë na mekaar laat kyk, sonder dat ons ’n enkele woord van die taal uiter.
Ek wil vir ’n volgende generasie kan sê hierdie taal staan vir iets – dit staan vir versoening, dit staan vir gemeenskap, dit staan vir mense, dit staan vir ’n toekoms. Dit staan nie net vir een soort mens wat die taal uiter as hy brannas en Coke aan sy lippe kan proe nie en dit staan nie net vir die tannie met die stywe lippies wat groot oë maak wanneer iets van buite haar kerkgemeente by haar huis instap nie.
Dis nie asof die taal se fakkeldraers nie probeer het nie.
Valiant Swart gebruik in Die Mystic Boer die woorde wat ons wel tot ons beskikking het om die Afrikaner aan te spoor om homself ná die einde van apartheid te herontdek. Tog ontbreek dit hom, soos die res van ons, aan al die legkaartstukkies wat nodig is om die prentjie te voltooi en in daardie gapings in die prentjie raak ons oë groot, want wat kan ons dan nou anders doen? Ons kan 40 dae en 40 nagte gaan soek, net om weer presies daar te eindig waar ons begin het. . .
Het ons ooit werklik gaan soek? Want soms voel dit vir my ons het ons staande komitee Texas toe gestuur vir navorsing en toe net op ’n antwoord gewag. Is dit werklik al wat ons gevind het? Is hierdie die enigste Afrikaner-identiteit wat ons kan voorskryf? Is Afrikaner-identiteit werklik iets waarvan jy moet vat wat jy soek en die res los?
Wie het die S&T vir die Texas-trippie geoudit? Moet ek ’n kloon van ’n afdruk van ’n Texas-vervalsing wees om vir die tannie met die stywe lippies te gaan kuier? Of is daar plek hier vir ’n vars manier van net wees? As ek moet Afrikaans wees, moet ek só Afrikaans wees?
As jy kyk na Engels as ’n voorbeeld, het hierdie taal nie sy huis uit egte Engelse steen gebou nie. Die vensters is uit Japannees vertaal, die vloerteëls uit Russies en die gras op die dak is uit Spaanse grond gepluk.
Alles wat jy moet weet, kan jy in Engels weet. Alles wat jy moet sê, het jy die legkaartstukkies om in Engels te sê, want hulle staande komitee het verder gaan soek as ons s’n.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie