Ons is glo almal in dieselfde bootjie… Maar is ons?
ANONIEM SKRYF:
Die uitbreek van bek-en-klouseer in die verre suide van Namibië het veel meer as net die landboubedryf tot stilstand geruk.
Dit het die bestaansreg van onskuldige boere en hul gesinne in gedrang gebring. Mense wat deur geen toedoen van hul eie skielik van hul inkomste ontneem is, maar steeds aan elke finansiële verpligting moet voldoen asof niks gebeur het nie.
Die boer het nie gekies om op te hou bemark nie. Hy het nie gekies om sy inkomste prys te gee nie. Hy is deur omstandighede buite sy beheer in hierdie posisie geplaas. Tog word daar van hom verwag om die volle finansiële las daarvan alleen te dra.
Sy diere moet steeds versorg word. Sy werkers moet steeds salarisse ontvang. Sy kinders moet steeds skoolgaan. Sy gesin moet steeds eet. Sy finansiële verpligtinge het nie saam met sy bemarkingsgeleenthede tot stilstand gekom nie.
En intussen staan soveel van die instansies wat juis nou die boer behoort by te staan, handjies gevou en kyk hoe hy spartel om kop bo water te hou.
Die mediese fonds bied ’n premievakansie aan. Dit klink na ’n wonderlike tegemoetkoming, totdat jy die fynskrif lees. Gedurende hierdie tydperk het jy en jou gesin ook geen mediese dekking nie. Die boer moet dus kies tussen kos op die tafel en die mediese veiligheid van sy gesin. Asof siekte en ongelukke ook kennis geneem het van die uitbreek van bek-en-klouseer en bereid is om vir eers weg te bly.
Die banke bied hulp aan, maar op húl terme. Rente hou nie noodwendig oploop nie en die finansiële las kan steeds groter word. Skuldeisers bel jou telefoonlyne warm oor uitstaande betalings. Internetdienste word opgeskort die oomblik wanneer ’n betaling terugverwys word. Niemand vra hoe dit met jou gaan nie. Niemand vra of daar nog geld is om vir jou kinders kos te koop nie.
Almal wil net weet: Wanneer gaan ons ons geld kry?
En dan hoor ons daagliks die woorde: “Ons is almal in dieselfde bootjie.”
Maar is ons werklik?
Is die naweekboer, wat aan die einde van die maand steeds ’n vaste salaris ontvang, in dieselfde bootjie as die voltydse boer wie se enigste bron van inkomste afgesny is?
Is die personeel van die banke, die mediese fondse, die internetverskaffers en ander diensverskaffers, wat steeds hul maandelikse salarisse ontvang, in dieselfde bootjie as die boer wat nie weet wanneer hy weer ’n sent gaan verdien nie?
Is die mense wat besluite oor die boer se toekoms neem, ook dié wat snags wakker lê en wonder hoe hulle hul gesinne gaan onderhou?
Nee. Ons mag dalk almal op dieselfde stormagtige see wees, maar ons is beslis nie almal in dieselfde bootjie nie. Sommige sit op stewige skepe met reddingsbote, terwyl die boer met ’n lekkende skuit en ’n emmer probeer oorleef. En selfs terwyl hy besig is om die water uit sy bootjie te skep, staan almal nader om hul pond vleis te eis.
Het iemand al stilgestaan en gedink aan wat moontlik sou wees indien elkeen bereid was om net ’n klein gedeelte van die las te dra?
Wat as die banke werklik tegemoetkomend was? Wat as mediese fondse ’n gedeelte van hul premies kon absorbeer sonder om gesinne van hul dekking te ontneem? Wat as diensverskaffers bereid was om tydelike afslag of uitstel toe te staan? Wat as skuldeisers vir ’n oomblik verder as hul state en syfers kon kyk en die mens agter die uitstaande bedrag kon raaksien?
Ons verstaan dat elke onderneming ook sy eie finansiële verpligtinge het. Niemand verwag dat ander ondernemings hul deure moet sluit om die boer te red nie. Maar wanneer die las tussen baie skouers verdeel word, hoef dit nie een mens te breek nie.
As elkeen bereid is om ’n bietjie prys te gee, kan almal dalk op die been bly. Maar as elkeen op sy volle pond vleis aandring, gaan die boer onder – en daarmee saam ’n hele ekonomiese ketting.
Want agter elke boer staan plaaswerkers, gesinne, voerhandelaars, veevervoerders, werkswinkels, winkels, slaghuise en plattelandse gemeenskappe wat van sy voortbestaan afhanklik is.
Die boer is nie net ’n rekeningnommer nie. Hy is nie net ’n uitstaande saldo op ’n rekenaarstelsel nie. Hy is ’n mens. ’n Pa. ’n Ma. ’n Werkgewer. ’n Voorsiener. Iemand met drome, verantwoordelikhede en ’n liefde vir die grond waarop hy daagliks sy bestaan probeer maak.
Die boer vra nie vir liefdadigheid nie. Hy vra nie dat sy skuld afgeskryf word of dat iemand anders permanent sy verantwoordelikhede oorneem nie. Hy vra vir ’n regverdige kans om hierdie krisis te oorleef. Hy vra vir begrip, vir menslikheid en vir daadwerklike ondersteuning.
Empatie is nie om vir iemand te sê jy verstaan sy situasie en dan voort te gaan asof niks gebeur het nie. Empatie is om bereid te wees om jou eie gemak, al is dit net ’n klein bietjie, op te offer om iemand anders deur ’n moeilike tyd te help.
Bek-en-klouseer is ’n dieresiekte, maar die gevolge daarvan is besig om ’n menslike tragedie te word.
Daar sal hopelik weer ’n dag aanbreek wanneer die beperkings opgehef word, wanneer die bemarkingskanale heropen en wanneer die boer weer ’n inkomste kan verdien.
Maar die vraag is: Hoeveel boere sal teen daardie tyd nog oor wees om te bemark?
Moenie eendag by die ondergang van die boer staan en vra wat verkeerd geloop het, terwyl jy vandag die geleentheid gehad het om ’n verskil te maak nie.
Moenie vir die boer vertel dat ons almal in dieselfde bootjie is as jy nie bereid is om ook ’n roeispaan op te tel nie.
Die boer het genoeg simpatiebetuigings gehoor. Hy het genoeg mooi beloftes gehoor. Hy het genoeg vergaderings, verklarings en woorde van bemoediging beleef.
Wat hy nou nodig het, is dat iemand sy hande oopvou, sy moue oprol en hom daadwerklik help.
Want om toe te kyk hoe iemand verdrink terwyl jy die vermoë het om hom te help, is ook ’n keuse.
En die verre Suide sal onthou wie in hierdie tyd van nood werklik langs sy boere gestaan het – en wie bloot op die kantlyn gestaan en toekyk het.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie