(On)gelyk en verward
Placido Hilukilwa – Hoe sommige mense van standpunte verander, verbaas my.
Maar nie so erg soos toe ’n karkas van ’n olifantbulletjie sommer so uit die bloute op 10 Julie 1987 op Windhoek se vullishoop gevind is nie.
Dit is egter ’n storie vir ’n ander dag.
’n “Gentleman” wat vir maande herhaaldelik aan my gesê het dat hy tevrede is met die wetsontwerp op gelykheid in die huwelik, en wat deur voorstanders van mans-heerskappy as ’n “rugsteker” bestempel word, kom vandeesweek huilend na my (vrou se) huis toe.
Die rede: Net toe hy gedink het die wetsontwerp is ’n “tweerigtingstraat”, vind hy nou uit dat dit eintlik nie daarop gemik is om mans se probleme ook aan te spreek nie.
“My vrou is alreeds die baas sedert 1985. Sy neem alle besluite oor wat ons moet koop, waar ons moet kuier, hoeveel ons op wat moet bestee, watter TV-program ons moet kyk, wat ons moet eet, ens. Ek het nie ’n sê nie en het gedink die wetsontwerp op gelykheid in huwelik sal my bevry om. . .” Hy is skielik stil toe hy uitvind dat die “eienares” van die huis tuis is.
Ek bevind my nie in dieselfde situasie nie. Erger.
Gevestigde tradisies het ’n neiging om vol te hou ondanks pogings om nuwe tradisies te skep.
Mense in die Noorde, wat gewoond is om na ’n woonhuis as “Mnr. X se huis” te verwys, moet hulleself voorberei vir ’n ander terminologie ná die promulgering van dié wet (ek bedoel, indien dit ooit gepromulgeer sal word).
Om na “Mnr. en Mev. X” se huis te verwys, sal polities korrek wees. Intussen moet weg gedoen word met die tradisionele gebruik om ’n vroumens se huis “Okaumbo” (huisie) te noem. Dit is klaarblyklik strydig met die letter en gees van die nuwe wet.
In sommige gevestigde tradisies het ’n mens mos altyd met jou pa se naam geïdentifiseer.
“My naam is Haufiku ya Kamati.”
Dit is verby, my broer. Nou moet ons blykbaar met moeder identifiseer ook. Iets soos: “My naam is Haufiku ya Maria.”
Ek kan niks doen en maar net saamstem met Essawi dat die totale som van euwel in enige stelsel standvastig bly. Gevolglik moet enige vermindering na een rigting – byvoorbeeld ’n vermindering van diskriminasie teenoor vroue – met ’n vermeerdering in die ander rigting gepaard gaan, byvoorbeeld diskriminasie teenoor mans.
’n Filosoof het lank gelede gewaarsku dat verwarring altyd meer word in die gemeenskap. Net wanneer iemand uiters hard werk, kan dié verwarring tot orde verminder word in ’n beperkte streek.
Desnieteenstaande dié poging sal die verloop van die lewe lei tot ’n vermeerdering van die totale verwarring in die gemeenskap.
Vandag se mens wil hom/haar nie hieraan steur nie.
En tereg ook. – 13 Maart 1996


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie