• Tuisblad
  • Menings
  • Onderwysrubriek – Kernbeginsels van die onderwysstelsel en die belang van kinders
No Image Caption

Onderwysrubriek – Kernbeginsels van die onderwysstelsel en die belang van kinders

Ek dink, alvorens ons betrokke raak in dialoë oor onderwys en raadgee oor hoe behoeftes aangespreek behoort te word, moet ons seker maak dat ons die basiese beginsels wat aan die kern van alles lê, verstaan.

Mense maak aansprake en aannames, soos nou in die Ndama-Oos-geval en dan ontaard dit in allerlei beskuldigings, moddergooiery en kleinlike politiekery. Dan vervaag die gesprek oor die aanwending van die beleggingsbegroting, waaroor dit eintlik gegaan het, soos mis voor die son.

Dit geld nie net vir hierdie begroting nie, maar feitlik oor alles; aspekte van die onderwysreg, aanstelling van onderwysers, skooldissipline, godsdiens in die skole, moedertaalonderrig en dies meer. Deelname aan openbare diskoerse is goed vir onderwys, maar dan moet ons ons eers vergewis van alle tersaaklike aspekte. En baie belangrik, ons moet altyd onthou die belang van die kind is altyd sentraal!

Hierdie neiging is beslis nie vreemd nie; in baie gevalle word die kruks van die saak geïgnoreer om ander belange te dien. In 1866 is gelykheid deur die aanname van die 14de Amendament in die VSA gewaarborg. Ten spyte hiervan het segregasie met sy “boetie” diskriminasie lustig voortgegaan. Dertig jaar later verklaar die hof in Plessis vs Fergusen dat gelykheid wel in ’n gesegregeerde staat moontlik is.

Die hof was meer begaan oor die voorregte en leefwyse van die bevoorregte (wit) groep as oor die belang van die swart Amerikaner. In die saak van Brown vs Board of Education (1954) wys die litigante suksesvol daarop dat gelykheid net nie moontlik is in ’n ge­segregeerde staat nie en dat kinderregte van dag tot dag geminag word. Deur die kollig na die belang van die kind te verskuif in hul betoog, wen die litigante die argument. Soos in Plessis besef ons nie altyd dit gaan om die belang van die kind nie; of ons is bloot aspris!

Saterdagaand was skoolboelie die tema van die program “Sê jou Sê” op kykNET. Een geval wat bespreek is, is van die skooldogter wat so geboelie is dat sy die fisieke en psigiese letsels vir die res van haar lewe met haar sal moet saamdra. Daar is gereël vir die verpligte dissiplinêre verhoor, maar toe die aanvallers die vertrek instap, het hulle dit laggend gedoen. Dit sê vir my dat nie net die leerders by hierdie skool die regte van ander nie ernstig opneem nie, maar dat die bestuur van die skool dit nie met die nodige erns en duidelikheid by die leerders inskerp nie.

Nou die anderdag nader ’n skoolouer op die dorp my om raad. Hy het drie kinders waarvan een seun, so tien jaar oud, in Windhoek op skool is. Hy het te vertel dat hierdie outjie gereeld deur ander kinders op die skoolgrond geboelie was. Die outjie het een dag besluit om terug te baklei en die vermeende boelie se neusbeen gebreek en sy een oog blou geslaan. Dit het alles, na bewering, op die skoolgrond plaasgevind. Die seun word nou dissiplinêr aangekla en sy pa wag nou op die besluit van die dissiplinêre komitee. Dit sal interessant wees, vir my altans, om die uitslag te hoor. Ek stel eintlik net belang om te sien hoe die belang van die kinders handhaaf sal word sonder om dissipline en die skoolreëls by die deur uit te gooi.

Ons kan nou terugkeer na die geval van die Kavango’s. Die regering het van meet af besef ’n beleid van gelyke (equal) voorsiening sou nie alle belange, en veral nie die van die kind, dien nie.

Dit sou dwaas wees om ’n skoolbou­program te implementeer wat geskoei is op die beginsel van gelykheid. In plaas hiervan is die beginsel van ­billikheid sentraal in die onderwys­beleid ingebou. Skole word ook aan­gemoedig om hul fasiliteite maksimaal te benut terwyl die agterstande in ander areas aan­gespreek word.

In hierdie eeu alleen het die klaskamers in Kavango (albei streke) met meer as 70% toegeneem. Ongelukkig, weens bevolkingsgroei en verstedeliking het strukture wat met tradisionele materiale gebou is, met 71% toegeneem. ’n Ander verklaring hiervoor is dat die gemeenskappe nie juis hierdie strukture afbreek ná die toevoeging van permanente strukture nie. Meer hieroor later.– [email protected]* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer