Onderwys
Vandag se skrywe is ’n respons op ’n pleitdooi vir ’n professionele liggaam vir onderwysers in Namibië. ’n Streeksdirekteur van onderwys in die Noorde van ons land het hierdie pleidooi in ’n toespraak aan die owerhede gerig. Dit val nogal vreemd op dat ons meer as 30 jaar ná onafhanklikheid nog nie oor so ’n regulatoriese liggaam beskik nie. So ’n professionele liggaam bestaan uit uiters bekwame en ervare praktisyns van hul betrokke beroepe. Die liggaam is dan verantwoordelik vir die daarstel van etiese standaarde rakende prestasie, bevoegdheid, sekerheid, professionele gedrag en opleiding. In ons land is daar sulke toesighoudende instansies vir gesondheidspersoneel, geoktrooieerde rekenmeesters, publieke rekenmeesters en ouditeurs en regslui. Die vraag is steeds waarom die onderwyssektor nie oor so ’n toesighoudende liggaam beskik of kan beskik nie? Onderwysers wat die nodige vereistes vir toelating tot die professie bevredig, bied tog hul dienste teen betaling aan. Die onderwyswet skryf ook sekere professionele standaarde en gedragskodes voor wat hulle moet handhaaf, Daar moet tog ’n liggaam wees wat oor hul termyn in die onderwys kan toesig hou!
Baie ander lande beskik oor dergelike organisasies. In Suid-Afrika is die mandaat van die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders die bevordering van die status van onderwysers, professionele ontwikkeling en die inskerping van etiek. Die onderwyswet van Suid-Afrika vereis dat elke onderwyser ’n lid van die raad voor diensaanvaarding word. Die mandaat van die Teachers Registration Council in Nigerië behels die bepaling van onderwysstandaarde, akkreditasie van onderwysopleidingsprogramme, goedkeuring van kwalifikasies vir registrasie, en om te verseker dat slegs toepaslike gekwalifiseerde onderwysers tot die professie toegelaat word.
Ek is dit eens met die direkteur doer uit die Noorde dat ons met ’n hengse behoefte en agterstand sit. Die Onderwys Adviesraad van Namibië toon geen ooreenkomste ten opsigte van mandaat, samestelling en onafhanklikheid met die twee hierbo genoem nie. Ek is dit ook eens met die minister dat daar ’n groot behoefte vir die professionele ontwikkeling van praktisyns in ons skole is. En, na vele skryf van rubrieke het ek tot die besef gekom dat daar weinig relasie bestaan tussen wat baie skole het (gekwalifiseerde onderwysers, voldoende fasiliteite en toerusting) en hul vlakke van prestasie. Ons kan dit alleenlik regstel deur te werk aan die professionaliteit van ons onderwysers.
Nou hoe moet so ’n liggaam daarna uitsien? Net soos in Suid-Afrika en Nigerië moet die klem op onafhanklikheid val. So ’n liggaam moet geheel en al vry wees van regeringsinvloede en onafhanklik van die arbeidsunies (onderwys ingesluit) en die politiek. Die onderwyserunies sal seker ’n mond vol hieroor te sê hê. Mens moet egter onthou dat laasgenoemde se eerste oogmerk is om hul betalende lede se belange te beskerm. Dit sal vir hulle onmoontlik wees om die onafhanklikheid van ’n raad vir onderwysers te handhaaf. Dit is tyd dat ons so ’n professionele liggaam in Namibië stig met die doel om die status van die professie te bevorder deur registasie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie