No Image Caption

Onderwys – Job Amupanda en onderwysbeplanning

Politici en kritici het al gemaan ons moet nie faal om te beplan of beplan om te faal nie.

Job Amupanda het die ander dag ’n netjiese eier hieroor te lê gehad; hy beskuldig die onderwysowerhede pertinent van swak beplanning. Verder is Amupanda van mening onderwysbeplanning in Namibië hou nie tred met die bevolkingsgroei nie. Hy verwys veral na Windhoek en Rundu waar die konstruksiekoers geensins tred gehou het met die toelating van leerders nie.

Een van die skole wat Amupanda uitsonder, is die Ndama-Oos Primêr op Rundu wat ’n groot gebrek het aan klaskamers, lopende water, elektrisiteit en ablusiegeriewe. Die 552 leerders en 14 onderwysers moet gereeld die bossies besoek in tye van nood. Ndama-Oos is maar ’n spieëlbeeld van ander skole in Kavango-Oos wat sonder hierdie broodnodige geriewe moet klaarkom.

As oud-onderwysbeplanner weet ek die ministerie doen sy bes om sy beplanners aan indiensopleidingsprogramme bloot te stel. Van die opleiding vind ook by internasionale instansies êrens in die buiteland plaas. Is daar miskien kritieke aspekte van onderwysbeplanning wat ons beplanners mis?

Is dit miskien hierdie realiteite waarna Phillip Coombs (1974) in Major problems facing educational planning in the next decade verwys? Volgens Coombs het die onderwyslandskap in die 20ste eeu, veral ná die Tweede Wêreldoorlog, die demokratisering van groot dele in die wêreld en die vrywording van Afrika, baie verander. Het hierdie veranderende wêreld verby baie onderwysowerhede en beplanners gegaan? In Afrika moes ruimte geskep word vir groot getalle kinders wat in die skool moes kom. In die VSA moes groot wysigings aan die onderwysstelsel aangebring word om gelyke geleenthede vir alle kinders (wit en swart) te skep. Baie van die konserwatiewe wit gemeenskappe het teengeskop en toelating van swart en inheemse kinders is eers moontlik gemaak ná ’n reeks hofbeslissings. In ander lande was daar klemverskuiwings; voorskoolse en primêre onderwys moes nou meeding met sekondêre en tersiêre onderwys. Al hierdie veranderinge het natuurlik groot uitdagings aan finansiële, personeel- en fasiliteitsvoorsiening gestel.

Baie van hierdie veranderinge is gerugsteun deur grondwette en internasionale konvensies en in sommige lande is die owerhede herinner aan hierdie beloftes; beloftes wat die owerhede nie altyd kon nakom nie. Die nuwe demokrasies was ook nou self verantwoordelik vir hul ekonomieë terwyl die toelating van leerders erge druk op die staatskaste uitgeoefen het. Verder moet mens in ag neem dat die skoolgetalle verder opgestoot is deur die toelating van leerders wat ver bo die aanvaarbare skoolouderdom was. Mens kry die indruk dat die opwinding en euforie oor onafhanklikheid die realiteite effe versluier het.

In die artikel fokus Amupanda meestal op die digbevolkte stedelike gebiede. Mens moet noem dat dit enige regering se wens is om nie die landelike bevolking agter te laat nie; onderwys het ’n kritieke rol om hier te speel. Ontwikkeling moet egter ondersteun word deur kurrikula wat in lyn is met die omringende omstandighede. Dit lyk egter nie so nie! In die Suide beskik ons nog nie oor volwaardige skole wat gerig is op die voorbereiding van leerders vir landbou nie. Hierdie is ook mynbouwêreld; hier is ook geen skole wat spesifiek daarop gerig is om leerders vir hierdie sektor voor te berei nie. Skole hier opereer maar min of meer op die formaat van die in die stede. Baie van die skole, veral in die Suide, het in die laaste jare opgegradeer tot sekondêre skole, maar personeelvoorsiening bly ’n ernstige uitdaging. Mens kry die indruk dat hierdie skole nie juis presteer nie. Ander areas wat met groot entoesiasme aangepak is, is kurrikulêre veranderinge, onderwyseropleding en personeelvoorsiening. Geweldige groot porsies van die onderwysbegroting is hieraan bestee. Dit lyk nie of die belastingbetaler waarde vir sy geld kry nie. Die oorgrote gedeelte van ons onderwysers is nou geskik gekwalifiseerd vir die poste waarin hulle tans is, maar interne koste-effektiwiteit (educational efficiency) getuig nie hiervan nie. Miskien is dit tyd vir ’n besoek aan die skryfbord.

[email protected]* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-09-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer