Praat Saam Briewe
Praat Saam Briewe

Namibië kan nie langer skool-skool speel nie

BRANDON HAMMOND SKRYF:As kinders was van ons gewildste tydverdrywe om skool-skool of kerk-kerk te speel.

Ek was dan dikwels prinsipaal of predikant, afhangende van wat ons gespeel het.

Van tyd tot tyd het vurige rondreisende predikers egter ons dorp besoek en dikwels die gehoor ernstig gewaarsku: Daar is nie meer tyd vir kerkie-kerkie speel nie!

In my kinderlike naïwiteit het die skuldgevoel my by die aanhoor van sulke verdoemende predikasies bloots gery – ek het toe nie besef die evangelis praat eintlik met die grootmense nie. Nou, dekades later, moet grootmense dit egter weliswaar prontuit aanhoor: Ons durf nie langer meer skool-skool speel nie.

En ons weet presies wie hier die “groot” mense is.

Die edelste beroep (eintlik goddelike roeping) het oor die afgelope jare in so ’n sirkusspeletjie ontaard dat “Bantoe Onderwys” soos ’n Sondagskoolpiekniek vertoon in vergelyking met wat die grootmense tans vir skoolkinders opdis. Trouens, sommige gerespekteerde swart akademici gee skaamverleë (en dalk bang-bang) toe dat onderwysstandaarde gedurende die koloniale tyd beter was.

Nie wat ons wil hoor nie, want vir wie blameer ons dán vir die huidige pandemonium?

Ons “speel skool” wanneer ons, onder andere: Enigeen bekwaam genoeg vind om as leerkrag opgelei te word (is daar minimum toelatingsvereistes?); enige instansie geskik genoeg vind om onderwysers op te lei (aspirantonderwysers daag by onderhoude op met onderskeidings, maar kan skaars praat); standaarde en slaagvereistes so verlaag dat dit harde werk verg om te druip; kinders na ’n volgende graad bevorder bloot omdat hul weer gedruip het, nie omdat hul iets bemeester het nie; ’n skamele 40% in ’n nasionale graad 11-eksamen as ’n A-simbool beskou; onderwysposte nie betyds vul nie of sommer vergeet om hulle te adverteer; skoolgereedheid aan ouderdom koppel en nie aan voorskoolse vaardighede nie; nie groot genoeg is om te erken sekere onderwysbeleidsrigtings is onpragmaties en/of teenproduktief nie.

En voor ek as reaksionêr geëtiketteer word. Ek sien bitter min tekens van die sogenaamde rewolusie wat in die eerste plek bedoel was om die gaping tussen ryk en arm aan te spreek.

Desnieteenstaande kan volwasse en verantwoordelike grootmense hul beywer vir ’n verbeterde onderwysstelsel en sodoende ’n radikale omwenteling teweeg bring, juis omdat Namibië dit nie langer kan bekostig om skool-skool te speel nie.

Kommentaar

Republikein 2025-07-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer