’n Ope brief aan Veikko Nekundi
Geagte mnr. Nekundi
Ek het nog altyd gesê Swakopmund is vir Namibië wat Kaapstad vir Suid-Afrika is – die bestuur werk, die paaie is heel en die mense het ’n huppel in hul stap.
Die hele dorp voel soos ’n stukkie van Shangri-La wat homself probeer vermom onder net-net genoeg negatiwiteit dat niemand agterdogtig raak nie.
Dalk sien ek dit net so omdat Swakopmund my heimat is, of dalk het ek in my paar jaar as gemeenskapsjoernalis op die dorp genoeg aanskou om te besef hoe die verskeie ongesiene dele van Shangri-La in een dopamien-belaaide masjien saamwerk.
Wanneer jy jou tuisdorp die eerste keer vanuit ’n joernalis se oogpunt sien, is dit asof die skille van jou oë afval en jy nooit weer net die geluk wat ’n stukkie van die aarde vir jou bring as vanselfsprekend kan aanvaar nie.
Ek onthou toe die skille van my oë afgeval het. Dit was toe ek ’n verslag van die Swakopmundse munisipaliteit gelees het oor hul planne vir gemengde verkeer.
Ek het onmiddellik besef die lang stap- en fietslane wat vir my en my vriende as kinders ’n uiters belangrike deel van ons sosiale lewens (en dus ons sosiale ontwikkeling) was, was nie sommer net daar toe God die hemel en die aarde geskei het nie. Iemand het hulle uitgedink, gebou en ontwikkel.
Op 11-jarige ouderdom het ons ’n “duik” in die laan langs die see af tussen Vineta en die Mole gestap. Ons het elke Saterdag dié paadjie gekies en langs die see gekuier en roomys geëet totdat die son begin het om sy skof vir die dag af te sluit.
Ons het dikwels so baie op en af met dié paadjie geloop dat ons snags met blase op ons voete huis toe gekom het. Maar ons was jonk, uit ons ouers se hare en (ten minste in hierdie opsig) onafhanklik.
Later het ek as jong joernalis met die oulikste blou fietsie met sy wit mandjie en blommetjies hierdie selfde roete werk toe en terug gekies.
Dis die fiksste wat ek nog was en in die pandemie, toe almal uitgehonger vir geselskap was, was die mense wat ek elke dag op daardie paadjie teëgekom het net genoeg vir my om nie moed te verloor nie.
Noudat almal oor die spoedhobbels op die westelike verbypad kla, kan ek nie anders as om terug aan daardie verslag te dink nie. Die verslag wat verkeer beplan volgens die afsonderlike behoeftes van die dorp se voetgangers en motoriste en hulle nie almal onder een kam probeer skeer het en hulle nie almal in die motoriste se baan probeer dwing het nie.
Daardie fietslane was soveel meer as net fietslane. Dit was waar ek en my vriende as tieners oor ons groeipyne gepraat en gekla het. Ons het vriendskappe daar gebou en sommer ’n bietjie oefening ingekry sonder dat ons dit ooit besef het.
Daar is ’n gemeenskap gebou op daardie lane tussen die drawwers wat net bietjie oefening wil inkry en die stappers wat nie kon bekostig om van punt A na punt B te ry nie.
Waar gemengde verkeer behoorlik beplan word, verander ons meer as net hoe mense van hier na daar beweeg – ons verander hoe hulle sosialiseer, ons verander hul verhouding met hul liggame en, as hulle lank genoeg alleen stap, verander ons hul verhouding met hul gedagtes en gevoelens. Hoe is dit vir ’n land wat sukkel om sy mans te beskerm teen dit wat in hul koppe aangaan?
In dele van die wêreld waar daar werkende openbare vervoer is, vind jy stories van mense wat kon sweer hulle sou niks gewees het as hulle nie ’n spesifieke persoon op die bus of op die trein ontmoet het nie.
As jy wil praat van die sosioëkonomiese speelveld gelykmaak, skep vervoerstelsel wat Namibiërs as eweknieë sal gebruik.
In hierdie stadium dien jou spoedwalle geen ander doel as om al hierdie vooruitgang te briek nie. Gaan dit wees waarvoor Namibiërs jou onthou? Dit hoef nie te wees nie.
Groetnis
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie