Iru00E9ne-Mari van der Walt
Iru00E9ne-Mari van der Walt

Moenie die gogga wegjaag nie

Irene van der Walt

Moenie die gogga wegjaag nie


Ek wens dit was nie so nie, maar my smaak in literatuur is vir baie mense pretensieus. 

Die Engelse noem hulle “classics” en “literary fiction” – dit terwyl ek dit liewer nie hardop vir enigiemand sê nie.

Ek het ’n doelwit van 60 boeke vir myself in 2026 gestel en soos enige goeie boekwurm het ek toe nommer 61 gaan koop – J.D. Salinger se Catcher in the Rye. Ek het dit verslind en gewens ek kon hierdie boek gevind het toe ek ’n tiener was. 

Ek dink toe terug aan die voorgeskrewe leeswerk wat ek op hoërskool vir Engels Eerste Taal ontvang het en ek het geen klagtes gehad nie, maar vir my broer wat Engels Tweede Taal gehad het, kry ek steeds ’n koue rilling. 

Dit moes dan juis andersom gewees het – ek sou steeds mal wees oor Engels en oor lees, al het jy die verveligste boek ooit voor my neergesit. Die tweedetaalgroep is juis die groep wat die genot van lees en die taal moet ervaar.

Afrikaans was weer ’n ander saak – niks wat ons daar gekry het, was vir genot gemaak nie. Ek kry nou nog ’n naar kol op my maag wanneer N.P. van Wyk Louw se naam genoem word. Ek dink as gevolg daarvan het ek nooit Afrikaanse boeke gelees nie. Daar was nog baie min Afrikaanse boeke wat my geprikkel het. 

Dit beteken nie ek lees nie Afrikaans nie – daar is steeds hordes Afrikaanse poësie, kortverhale en nuusberigte wat ek graag in Afrikaans lees, maar om een of ander rede tel dit nie in die samelewing nie.

Ek dink ons moet ons idees van wat “tel” verander. Ek onthou dat kinders op skool ontmoedig is om prentjieboeke en strokiesprentverhale te lees – dit was vir talle onderwysers so te sê ’n speelding en nie leermateriaal nie – maar diegene wat hulself doenig gehou het met ’n properse leesboek was juffrou se persoonlike held. 

Dit laat my wonder; is daar ’n sekere aantal woorde of karakters per bladsy wat dit skielik intellektuele materiaal maak? Moet daar simboliek soos Holden Caulfield se rooi hoed of sy vrae oor eende wees? Is dit Spiderman of Catwoman wat die juffrou so ontsteld maak oor hierdie soort boeke? 

Laat die kinders lees wat hulle kan en wat hulle wil. As Dickens en Austen bo hul vuurmaakplek is, laat hulle by Stan Lee begin. Almal is nie van drie jaar oud af meegevoer in die wêreld van sprokies en stories nie. As hulle op 13 of 16 eers by Spiderman begin, dan is dit hulle begin.

Selfs ek, juffrou se heldin wat stroopsoet gesit en Judy Blume, John Green of Jenny Han gelees het, kon vir niemand vertel van die Wattpad-obsessie wat my op 14 beetgekry het nie. Dit is ook klomp woorde – swart op wit en sonder prentjies, maar as dit nie ruik na biblioteekstof nie, tel dit blykbaar ook nie.

Ons idees oor kinders en jongmense se liefde vir lees is heeltemal te eenvoudig. As Susanna eers op 16 by Huisgenoot begin of Sarel eers op 17 met Stan Lee se helde, laat die gogga toe om te byt. 

Literatuur is vir genot en nie vir enigiemand om hul neuse in die lug te hou nie. Diegene met hul neuse in die lug is ’n onwelkome newe-effek van literatuur en nie die teikengehoor nie.

Die wonderlike ding van literatuur is dat daar ’n boek is wat elke leser op sy leesvlak kan ontmoet – ons moet net ophou om ons neuse daarvoor op te trek.

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-02-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer