Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Kurrikulumverandering

Nou onlangs het ek geskryf oor ’n aktivis en andere wat in opstand gekom het teen die beweerde kurrikulumverandering by die Primêre Skool Auas. Ene Gariseb, ondersteun deur lede van die /Khomanin-gemeenskap, het ook aangedring op die verwydering van die skoolhoof. Die een probleem wat ek laas keer geïdentifiseer het, was dat ’n lokale probleem wat binne die mandaat van die streekowerhede val, nou deur die hoofkantoor aangespreek moes word.



In terme van huidige regulasies is dit duidelik die skoolhoof beskik nie oor die bevoegdheid om die instansie se kurrikulum eiehandig te verander nie en onderwysers kan nie op grond van aandrang uit die skoolgemeenskap se geledere verwyder word nie. Kurrikulumverandering mag die vergroting of vermindering daarvan wees.



Nou, die dringende vraag is hoe en deur wie dit gedoen word? Kurrikulumontwikkleing is nie ’n eksklusiewe aktiwiteit nie; dis die uitkoms van die samewerking van verskillende spesialiste en wisselwerking tussen verskillende faktore. Maar, kurrikula moet uit die “grond groei”. Die ontwerpers moet terdeë kennis neem van die mens en sy verhouding met sy omgewing.



Jare gelede het ek ’n skool in Tallahassee in die deelstaat Florida besoek. Visserye is een van die groot bydraers tot die stad se inkomste. Vir die bedrywige visserygemeenskap het die gebrek aan kundige persone wat die bote kon onderhou, ’n bron van kommer geword. Die skool, bewus van hierdie behoefte, het gevolglik die inisiatief geneem en ’n sillabus oor die instandhouding van bote ontwerp en geïmplementeer. Die instandhoudingsprobleme is ná ’n paar jaar aangespreek en die bedryf het deur hierdie inisiatief ’n goeie hupstoot gekry.



Die Nelson Mandela-metropolitaan is een van die motorvervaardigingsentra in die RSA. Die Daniel Pienaar Tegniese Skool op Uitenhage fokus onder andere op motorwerktuigkunde. Hulle het ook ’n intieme verhouding met die Volkswagen-motorfabriek, van wie hulle ook baie ondersteuning kry. In die lig van hierdie ondersteuning het die skool ook ’n tyd gelede motorsport as vak tot die skool se kurrikulum gevoeg. Hierdie is een van 26 skole in die wêreld en al skool in ons buurland wat die vak aanbied.



Maar, ander pogings was nie so suksesvol nie. ’n Skool op Rehoboth het een jaar ’n aansoek om fotografie te implementeer, ingedien. Dit was ’n tegniese skool en ek, ’n amateurfotograaf, was die aansoek aanvanklik heel goedgesind. Dit was nog in die tyd van filmkameras. Naas die onderwyserkoste sou geld moes voorsien word vir kameras, film, chemikalieë en donkerkamer-apparate. Hierdie sou ’n duur verandering wees met min hoop op werksgeleenthede vir hoërskool-graduandi aangesien die bedryf maar klein in Namibië is. Die aansoek het gevolglik nie geslaag nie.



’n Ander aansoek was van ’n skool êrens in die Suide. Hierdie skool wou graag ­Bybelkunde tot hul kurrikulum voeg; ’n baie edele inisiatief. Die motivering deur die skoolhoof; dit was ’n maklike vak en die skool se mening was dat meer leerders suksesvol in die finale skooleksamen sou wees. Hierdie aansoek het ook in die hek geduik!



Uit bogenoemde is dit duidelik daar moet ’n goeie motivering wees vir die toestaan van kurrikulumverandering. Kurrikulumverandering is duur aangesien daar addisionele personeel (of personeelure), handboeke, skryfbehoeftes en moontlik onderrigruimtes voorsien moet word. Verder is dit belangrik dat die uitbreiding volhoubaar moet wees; dit kan nie slegs vir ’n kort tydjie wees nie. Die vermindering is ook nie so eenvoudig nie. ’n Skoolvak kan nie sommer in enige studiejaar en enige tyd uitgefaseer word nie.



Naas al die uitdagings wat met kurri­kulumverandering gepaardgaan, moet die aansoek ’n burokratiese weg volg om seker te maak dat ’n besluit geneem word waarby die skool en sy leerders baat sal vind. Maar, hierdie voorskrifte moet duidelik aan die skoolgemeenskap gekommunikeer word. Versoeke kan aan die skoolhoof gerig word of ’n agendapunt op skoolouervergaderings wees. Skoolrade en streekonderwysfora moet ook duidelik oor die verwante protokolle ingelig word. Alle aansoeke moet aan die streekkantoor vir oorweging voorgelê word. Mens moet egter daarop let dat hierdie tipe aansoeke nie noodwendig suksesvol sal wees nie.



– [email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.



Kommentaar

Republikein 2025-05-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer