Photo Caption
Photo Caption

Kordonstap vir bek-en-klouseer in 1960

Lesersbrief
Jurie Viljoen

JURIE VILJOEN SKRYF:

Ek wil graag iets deel met almal wat oud genoeg is, en dit onthou.

Ek was in 1960 in Wennie du Plessis en in matriek. Ons het verneem daar het bek-en-klouseer op ’n plaas uitgebreek. Dit was nie vir ons ’n skok nie, want die avontuur het ons denke oorheers. Vir die boere was dit ’n oordeel.

Die laaste naweek van die kwartaal het ons verneem al die koshuisseuns gaan met ’n lorrie opgelaai word na die plaas van meneer Bokalekki, net buite Gobabis, waar die siekte onder die diere uitgebreek het.

Verskoon, maar ons was opgewonde oor hierdie wending in ons lewens. Ons het takke gekap en die drade daarmee toegemaak, sodat geen dier kon deurgaan nie.

Ons het gehoor dat ons, wat reeds 18 jaar oud was, Maandag by die polisiekantoor ingesweer gaan word om as “spesiale konstabels” op die landsgrense diens te gaan doen. Ons het gehoor ons sou ’n punt beman en daar aktiewe diens sou doen om te verhoed dat diere nie oor die grensdraad sou gaan nie en mense ook nie vleis en melkprodukte mag vervoer nie.

Ek is saam met ’n polisievoertuig na ’n tent teen die grens van Betsjoeanaland (Botswana) geneem. Daar was darem ’n tent opgeslaan oor ’n holte in die grond en my regterhand was ’n man van Kavango. Ek en hy sou die volgende drie maande geselskap met mekaar deel.

In die tent was ’n bed en jy moes jou besittings iewers pak.

Ons het kordon-geloop. Jy begin op die uur teen die draad afstap. Jy het ’n lantern saamgedra en dit het maar beperkte lig afgegee. Jy stap ’n myl (1 500 m) tot by ’n sekere punt. Jou buurman behoort jou langs die pad waar jy moet omdraai, te kry. Jou maat moet in die teenoorgestelde rigting met sy lamp stap. Een lengte het ongeveer ’n uur gevat totdat ons weer by die tent kom. Ons rus ’n uur en herhaal die proses.

Wanneer ons dit nie verwag het nie, het ons ’n motor gehoor. Dan is dit waarskynlik die polisie wat jou kaart vir aanwesigheid kom teken. Jy het twee pond per dag gekry. Soms was dit nie die polisie nie, maar die smous.

Dan het jy op krediet gekoop. Dit was maar blikkieskos of graankos, en ’n matriekseun het sy genot uit ’n pakkie 30 Stuyvesant-sigarette gekry. 

Ek kon ’n huis in die verte sien en ’n man het gereeld vir my koue melk gebring, wat ek saam met Rice Crispies geëet het.

Intussen het ek na my meisie verlang wat iewers in die Gobabis-distrik gewoon het. So het ons die kordonaksie beleef en uitgesien na ons dae op universiteit.


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-10-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer