Koffefe en koffiediewe: meer as net boeretroos
“Jan Pierewiet, Jan Pierewiet, Jan Pierewiet staan stil. . . Goeiemôre my man, daar is koffie in die kan.”
Soos in die ou volksliedjie, is die reuk van koffie – en die gedagte aan my koppie wat koud word – die enigste ding wat my soggens uit die bed kry.
Ek is bevoorreg: my man brou die boeretroos elke oggend. In my grootwordhuis was dit my ma se taak, en sy het haar liefde vir koffie aan ons almal oorgedra. Koffie was by ons nie net ’n drankie nie, maar ’n familie-instelling.
In my navorsing oor Afrikaner-kultuur en -identiteit in Namibië het ek besef hoe diep koffie in ons kultuur gewortel is – ’n bietjie boeretroos met Duitse flair (Melitta se Auslese bly ’n gunsteling). Koffie is vir my meer as troos: dit is ’n teken van verbondenheid. Dit bind mense saam en laat selfs eie gesinstaal ontstaan.
As kind het ons soggens op my ouers se bed gesit en koffiediewe in hul koffie gedoop. Dit was lank voordat ek besef het dis ons eie woord vir anysbeskuit. My man noem dit windbeskuit, en dis maklik om te sien hoekom: die ligte beskuit slurp die koffie op – daarom “koffiediewe”.
Vandag, met die prys van ordentlike koffie, voel dit amper soos ’n luukse opoffering, maar een wat ek weer as ouer met liefde maak. Ná ete was daar altyd koffietyd – ’n kosbare gesinsritueel wat ek steeds met my man deel. Speels noem ons koffie nou “koffêfê”, na aanleiding van een van Donald Trump se tikfoute.
My lewe is deurtrek van kultuurbetrokkenheid, iets wat my ma sterk aangemoedig het – veral deur ons deelname aan Die Voortrekkers. Koffie en beskuit om die kampvuur het sy eie bekoring. Een van my gunsteling-Voortrekkerliedjies lui:
“Koffie, koffie, anders val ek om.
Met die koffie in my rugsak sal ek nie so inmekaarsak.”
Ek moes onlangs glimlag toe ek besef hoe waar daardie woorde is, toe ek per ongeluk net kafeïenvrye koffie gedrink het en daglank niks meer as ’n zombie was nie.
Vandag, op die vooraand van my ma se verjaarsdag, lig ek my koppie koffie in haar eer. Sy is waarskynlik die rede dat ek – soos sy – ’n selferkende en volslae koffieverslaafde is. Maar ek sou dit vir niks verruil nie. Koffie is vir my ’n simbool van liefde, huislikheid en familie. Soveel hartsake is al op die sitkamerbank oor koffie uitgepraat. Ja, koffie is nie verniet boeretroos nie, maar vir my is dit meer as troos.
Niks sê “ek’s lief vir jou” soos ’n blik tuisgebakte beskuit van Ma nie. En daar is min dinge so intiem huislik soos ’n koppie koffie op jou ouers se bed – selfs nou dat ek self ouer is.
Koffie en beskuit, koffefe en koffiediewe – dit bly die geur van liefde, identiteit en kosbare herinneringe.
Annika van der Linde
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie