Kennisgewing-voos

Ek sê maar net
Placido Hilukilwa

Vandag, soos nooit tevore nie, behoort die mense bewus te wees dat om samewerking te bewerkstellig daar ’n doeltreffende meganisme moet wees wat die uitruiling van idees, ervarings, mededeelsaamheid en kennis moontlik maak.

Ek het tot die besef gekom dat die tyd ryp is dat bemarkers, ontwerpers van plakkers, propagandiste en diegene wat gemoeid is met kommunikasie ’n plan moet maak om kommunikasie-uitdagings doeltreffend te kan hanteer.

Die gewone waarskuwing, uitnodiging of aankondiging op ’n bord langs die pad, of ’n “Pasop vir die Hond” teen die hek en die nou tradisioneel aanvaarde werkloosheidaankondiging van “Kapena Ilonga (Geen werk)” teen ’n kantoordeur, is net nie meer genoeg nie. Nie eens ’n waarskuwing op ’n medisynebotteltjie of op ’n pakkie sigarette sal die “nuwe geslag” tot nadenke stem nie. Almal lees dit, maar niemand gee om nie. 

Net soos enige ander proses is kommunikasie veronderstel om dinamies te wees en mense aan te spoor. Maar o wee! ’n Kommunikasie-besoedeling het iewers tussen Adam (of miskien die “Anthropoid”) en iewers in ’n tydperk in die 20ste eeu plaasgevind.

Daar is te veel fisiese, sielkundige en konseptuele hindernisse (of steurnisse volgens sommige skrywers) wat ’n kombinasie vorm en die mens verwar. Neem byvoorbeeld ’n jong entrepreneur wat drank verkoop.

Hy kan voor sy cuca-winkel in blokletters skryf: “Moenie tombo en bier drink nie”, maar niemand sal hom daaraan steur nie.

Die hoeveelheid bier en tombo wat hy daagliks verkoop, sal hom in elk geval een van die dae ’n “ryk man” maak en die drinker aanvaar dat dit sy reg is om te drink wat hy wil. (’n Vriend sê vir my dat hy water bespaar en by ander huise gaan drink!) Wie sal nou omgee oor wat op die muur geskryf staan.

Iewers in ’n woonbuurt in Okuryangava het ’n voornemende entrepreneur nie genoeg sinkplate gehad om sy cuca-winkel op te slaan nie, toe gebruik hy sommer ’n bord met die woord “Bloedoortappingsdienste” daarop.

Niemand het nog probeer om bloed daar te skenk nie. Nuwe en ou kliënte koop net drank – en die eienaar maak redelik winste om sy maandelikse loon van N$275 aan te vul. 

’n Handelaar kan maklik pakkies kos met die woord “Gevaar” verkoop, en hy sal met dit wegkom. Net so verkoop die tabakmaatskappye sigaretpakkies met die woorde “Danger: Smoking causes heart diseases” en niemand gee om nie (of beweeg ek nou in ’n mynveld?). Dit lyk vir my ’n waarskuwing het ’n aansporing geword.

’n Mens kry gereeld ook kinders wat met botteltjies speel terwyl die waarskuwing daarop duidelik lees: “Hou buite bereik van kinders”. Dan wonder jy net. – 16 Februarie 1996

Kommentaar

Republikein 2026-06-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer