Kanniedood se dinge

Ek sê maar net 30 jaar gelede
-

Thia Weck – Skoonpa kom om die hoek van die huis gestap. Sy wit hare lyk asof hulle onlangs met elektrisiteit kennis gemaak het. Die oorjas kon eens op ’n tyd daarop roem dat dit wit was. Nou is dit in ’n kunswerk omskep met oorkruis oliekolle en ghriesstrepe.

Maar skoonpa voel vere oor hoe hy lyk. Hy glimlag en wink my met die voorvinger nader. “Kom kyk hoe lyk hy,” sê hy geheimsinnig.

Ons stap om die hoek van die huis. Die 1969-Mini staan skuins met die een agterwiel gelig. So half soos ’n hond by ’n boom wat hom gereed maak vir die groot verligting. En sy afwit kleur is vol swart blompatroontjies soos skoonpa se vingers deur die loop van die dag gevat het.

Oktober 1977: Ek en ouma ry dorp toe. Ek is ’n bogkind met sprinkaanbeentjies en hop agter op die Mini se sitplek rond.

“Ouma is hierdie my karretjie eendag, Ouma?”

“Net as jy soet is,” glimlag ouma.

Dis nie ’n probleem nie. Ek is soet.

“Hy lyk soos ’n pepermentjie, nê Ouma?”

“Hy lyk soos ’n pondjie botter,” speel ouma saam.

Augustus 1990: Ek kry my rybewys Vrydag. Ouma kom kuier Saterdag. Sy hou haar hand na my uit. Daar is iets in.

“Ouma groet nou die pondjie botter. Hy’s joune.”

Sy vou haar hand oop. Die Mini se sleutels blink soos die blink in haar oë.

Januarie 1992: Ek mag eers in my tweede jaar ’n motor op kampus hê. Ek ry Stellenbosch binne en voel soos ’n koningin. Die Mini kan nie vinniger ry as die student in pa se spogmotor agter my nie. Hy lê op die toeter en jaag uiteindelik verby. Maar ek voel die wind in my hare en vryheid in my hard. Die pad behoort aan my en my 1969-vuurwa.

Mei 1992: Die Mini is gesteel! My maag draai en my keel is kurkdroog. Verslae staan ek op die leë parkeerplek waar my Mini moes gestaan het. Tot ek die rugbyspan van Simonsberg eenkant sien staan en giggel. Ek stap om die hoek van die manskoshuis. Daar staan my getroue vriend tien trappe hoër op die stoep van die koshuisingang.

Ek is woedend. Stap tot by die groot breedgeskouerde manne, gryp die rugbybal en begin skel soos ek self nie geweet het ek kon nie. My Mini word versigtig deur ’n beteuterde rugbyspannetjie die tien trappe afgedra.

Julle 1993: Die hele meisieskoshuis raak geheg aan die klein hartebreker. In die middel van die nag word ek wakker van ’n geraas. Ek stap skrefiesoë buitentoe. Twee mansstudente probeer my Mini op die sypaadjie lig. Hulle het gedink dis groot sports tot die dames van die koshuis luidkeels van die derde vloer se stoep af begin protesteer het. Uiteindelik blaas hulle die aftog sonder dat Mini sy staanplek hoef op te gee. Ná die tyd sê ek vir hulle dankie.

“Niemand raak aan die Mini nie,” sê die een.

“Het jy dit gehoor?” fluister ek vir hom toe almal weg is. Augustus 1994: Ek kry ’n briefie en ’n blom teen my ruitveër. 

“Sal die eienares van dié oulike karretjie tog saam met my gaan koffie drink? Die Skim.”

Ek kyk na die Mini. Hy verklap niks. Maar tot vandag toe vermoed ek dat hy ’n gewillige posbus was waarvan die Suidwester met wie ek getroud is, meermale gebruik gemaak het. 

Junie 1995: Minitjie kom in Namibië aan. Op ’n lorrie. Want hy sou dit nie verder as die Paarl gemaak het nie. Dit gaan maar moeilik. Mini sukkel met die baie bulte. En toe, op ’n dag, wil hy net nie meer nie.

Hy groet nie eers as ek die sleutel draai nie. Daar is nie geld om hom reg te maak nie. Ek weet hy sal verstaan, maar ek voel asof ek hom in die steek gelaat het.

April 1996: Skoonpa kyk afwagtend na my. Die Mini brul mooi. Ek weet nie wat om te sê nie. Hoe kan ek aan Skoonpa verduidelik watter groot geskenk ek teruggekry het? Hoe gaan ons hom dankie sê? Ek en my opnuutgevonde vriend sal nog moet dink. 

– 30 April 1996

Kommentaar

Republikein 2026-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer