Jy's jonk tot jy oud word
Hulle sê die oomblik as jou brein vol ontwikkel is, begin dit weer verouder en ek het nog altyd gedink dit is onregverdig. Ons gaan deur so baie – van tienertantrums tot effens meer volwasse vloermoere – en vir wat? Een volmaakte oomblik van volwassenheid?
Ek dink ek het nog ook deur my een perfekte oomblik geslaap, want ek het die aand voor my 25ste verjaarsdag as ’n onskuldige dogter met sterretjies in haar oë gaan slaap en die volgende oggend wakker geword met ’n stramheid in my laer rug wakker geword wat ek nie dink ek sal weer kan reg dokter nie.
Ek moet bieg, ek het myself nooit vertel dat ek enigsins beter is as ouer mense nie – ek weet die lewe haal ons almal in ’n stadium in, maar ek het stilletjies gehoop dat hierdie besef, soos die klein detail in ’n sci-fi fliek, juis die ding sou wees wat my sou help om my noodlot te vermy. So is dit mos maar as jou brein net medium rare gekook is. Kon ons nie maar ten minste ’n medium well gekry het nie?
Skielik waneer jou laer rug konstant net effentjies seer is, besef jy te hel met die mooi boodskappies op Facebook dat dit nooit te laat is om te verander nie – jou lewe is nou op ’n treinspoor en jy moet net hoop hy gaan Ballito toe en nie blerrie Benoni nie.
My hoop vir die see is maar skaars, moet ek erken. Ek het nie eens ’n bikini gepak nie, want my lyf is nog ’n ding wat skielik nou aan my ouderdom behoort en nie aan my nie.
Tog is hierdie fase ook wonderlik, want ek weet soos ek op 19 geweet het, dat ek na hierdie tye gaan verlang. Dit is alleen op die treinspoor waar my lewe teen ’n yslike spoed tuimel in die rigting van die volgende ding, maar ek weier om dit eensaam te maak, want eensaamheid sou aanvoer dat ek nie die stilte waardeer nie.
Vir die eerste keer in my lewe het ek nie meer potensiaal nie en hoewel ek jare gelede angsbevange was oor die dag wat ek dít sou verloor, is ek nou rustiger as ooit tevore want ek besef nou potensiaal is niks anders as mense se verwagtinge van jou nie.
Ek het nooit potensiaal gehad nie, ander mense wat reeds verby hul een volmaakte oomblik was moes dit vir my sê in die hoop dat ek hulle nie Benoni toe sou volg nie.
Wel, ek weet nie waarheen ek op pad is nie, maar ek weet dit is donker, dit is nag en die koelte bied vir my lafenis na ’n lang tyd as onverskillige jongmens.
Hierdie is nou my gunstelingdeel van enige taak in die lewe – wanneer dit te vroeg is om te weet of jy sukses behaal het, maar te laat om terug te draai.
Jou sukses is nou ietwat Schrödingeragtig - beide lewendig en dood terselfdetyd. Al hoe jy verseker kan weet is om te wag tot die einde en die boks oop te maak.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie