Hoe lyk jou spore?

Lesersbrief
Lesersbrief
DIETER MAREE

DIETER MAREE SKRYF:

Die idee van vryheid het nog altyd ’n eindelose debat ontlok – uit alle oorde word gepraat van verlossing, emansipasie of woorde soos transformasie en dies meer.

Soms wonder ’n mens dan nou of die oorvloed van woorde en sinne nie in baie gevalle weer nuwe tronke skep nie. ’n Gesegde of slagspreuk spruit tog uit ’n ander se ervaring of lewensuitkyk.

Daar was gelewe, daar was ervaar – die nuutgevonde wysheid word soms onderskryf deur geweldige ontnugtering en ’n paar onverwagse dwarsklappe.

In ’n moderne konteks moét daar dus gelewe word om woorde te vind wat dalk ’n kompas aan die volgende geslag sal bied.

Die uitdagings van vandag neem beslis ’n ander gestalte aan as die uitdagings agter ’n Yster-gordyn veertig jaar gelede.

Dit waarvoor ons destyds gebid het, sal in alle waarskynlikheid nie meer vandag van toepassing wees nie, want intussen het so baie verander en word ons daagliks oorweldig met tegnologie wat hopenlik die aarde meer leefbaar sal maak sonder om ’n verbleikte onderrok te laat uithang.

Die vraag is dus of ons dit kan bekostig om halsstarrig aan iemand anders se uitgediende gedagtegang of lewensuitkyk vas te klou in ’n tyd waarin daar soveel inligting prosesseer word, terwyl ons reeds met oorweldigende gevolge lewe wat spruit uit gedrag waarvan ons nooit deel gevorm het nie ?

En hiermee bedoel ’n mens nie dat ons afstand moet doen van sekere rigtinggewende beginsels nie, maar iewers moet ons onsself begin afvra hoe hierdie “wyshede” die huidige probleme en uitdagings aanspreek, of dalk vererger.

’n Meer eietydse, outentieke benadering wat nie juis bydra tot groter sosioëkonomiese ongelykhede, aardverwarming, politieke verdeeldheid en rassekonflik nie mag dalk ’n meer stewige fondasie vir die volgende geslag daarstel.

Deesdae lewe ons asof ons die lááste in die ry gaan wees, terwyl daar naarstiglik in boetie en sussie se toekoms belê word. En dán nou die eerstejaartjies op kampus – “…ons is maar hier, maar moet asseblief nie van my verwag om ’n opinie oor enige aangeleentheid buite my boeke of toekomsplanne te vorm nie. . .”.

Hopenlik sal die volgende geslag nie slegs inspirasie in ons woorde vind nie, maar ook deur ons dade wat gepoog het om ’n beter wêreld vir hulle voor te berei.

In die woorde van daai bekende liedjie “Strange Fruit”, gesing deur Billie Holiday, kan jy die vraag dus nou aan jouself stel: “… Watter strange and bitter crop gaan die saadjies wat ek vandag deur my lewenswyse of gesindheid saai, vir my kinders en kleinkinders oplewer. Of andersom, gaan my verstokte siening ooit dié kinders of kleinkinders ’n geleentheid gun om na ’n dinamiese wêreld wat op hulle wag deur hulle eie oë te kyk?”

En ’n paar jaar gelede het Stellenbosch Universiteit afskeid geneem van ’n groot gees. Russel Botman het voortdurend die klem op die volgende geslag geplaas – met watter impak gaan dit waarmee ons vandag besig is die volgende geslag groet?

In die woorde van ’n kollega en jarelange vriend, prof. Nico Koopman was ’n merkwaardige aspek van Botman se persoonlikheid. . . “die manier waarop hy die kwaad op ’n liefdevolle wyse ontmasker, op ’n manier wat mense nie demoniseer, stigmatiseer en ontmagtig nie, maar wat hulle waardigheid respekteer en hulle energie gee om sake reg te maak. . .”. 

In die woorde van nog ’n bekende teoloog, prof. Yolanda Dreyer, “. . . hulle is veral herkenbaar aan die spoor wat hulle agterlaat. . . dit is nie ’n spoor van verwoesting nie. . . dit is ’n spoor van lewe. . .”. 

Hoe lyk jou spore vandag? 


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-06-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer