Hoe kom ons uit dié onderwysmoeras?
BRANDON HAMMOND SKRYF:
Albert Einstein het by geleentheid opgemerk dat ons nooit probleme kan oplos met dieselfde denkvlakke wat hul in die eerste plek veroorsaak het nie. Tog is dié oënskynlik aksiomatiese stelling slegs gedeeltelik van toepassing op die Namibiese onderwyssektor.
Gedeeltelik, want dit verg in talle opsigte nie ’n vreeslik verhewe verbeeldingsvermoë om ons uit die dryfsand te kry nie. Ons bevind ons in die huidige moeras omdat ons basiese grondbeginsels deur die venster gegooi het.
Soos ’n roekelose skilder het ons al die primêre kleure (almal onontbeerlik vir die finale skildery) vanaf die skildersdoek verwyder en staar nou ’n monsteragtige prentjie, ons eie maaksel, in die oë.
Intussen is ons beleidmakers naarstiglik besig om stoele aan boord van ’n sinkende Titanic te herrangskik. Die huidige haarklowery oor kinderhaarstyle getuig daarvan. En dit terwyl ons jongste skoolgaande landsburgers nie kan lees, skryf of tel nie.
Ek lys derhalwe hieronder ’n paar basiese onderwysbeginsels wat tans nie behoorlik in berekening gebring word nie.
DIE EERSTE DRIE JAAR
In die Eerste Wêreld het die klem oor die afgelope jare verskuif vanaf skoolgereedheid na voorskoolgereedheid. Indien ons in Afrika suid van die Sahara globaal kompeterend wil wees, sal ons ook ons kleuters vroeër akademies moet begin stimuleer. En ofskoon daar meningsverskille bestaan oor omtrent wat alles kinders nou eintlik gedurende die eerste drie jaar van hul lewe kan leer, is daar konsensus dat hierdie kritieke periode ’n gulde geleentheid bied om die grondslag vir ’n suksesvolle skoolloopbaan en lewe te lê.
INDIVIDUALITEIT
Elke kind is ’n uniek-geskape wese met sy of haar eie leerstyl, leertempo, aanleg, voorkeure, vaardighede en persoonlikheid. Daarom kan ’n “een-grootte-pas-almal”-benadering tot kurrikulering en leeraanbod nooit sinvol bydra tot die holistiese ontsluiting en ontwikkeling van alle leerders nie. Trouens, so ’n benadering is teenproduktief.
’n Engelse opvoedkundige het dit mooi opgesom: “Every child is a genius, but if you judge a fish by its ability to climb a tree, it will live its whole life believing that it is stupid.”
KINDERS IS DIE MIDDELPUNT
’n Moderne Engelse vertaling van Matteus 18:2 lui: “Christ stood a child in the middle of the room”.
Kinders is ook die middelpunt van onderwys, die spil waarom alles draai. Tog kom dit toenemend voor asof ministeriële beleide en burokratiese prosedures die kind se regmatige posisie “in die middel van die vertrek” begin oorneem.
Gevolglik stel ons kinders bloot aan beleide wat, alhoewel dalk goed bedoel, nie hul beste belange op die hart dra nie. Ons voertaalbeleidsrigting is ’n sprekende voorbeeld hiervan.
STANDAARDE
Die voortdurende opgradering van onderwysstandaarde is noodsaaklik.
Een van die lakmoestoetse vir ’n goeie onderwysstelsel is of sy leerkragte en leerders met verloop van tyd al hoe vindingryker en vaardiger word. In hierdie digitale dispensasie is dit ononderhandelbaar. Hoe anders sal ons sinvol en mededingend op die internasionale verhoog kan deelneem?
Wêreldstelsels laat eenvoudig geen ruimte vir stagnasie nie. Derhalwe sal verlagings in onderwystandaarde en slaagvereistes op die ou einde ’n wanaangepaste burgery oplewer wat nie die eise van die nimmereindigende nywerheidsomwentelings kan hanteer nie.
Ek gee toe, dat die bogenoemde lys nie naastenby die volledige toedrag van sake verteenwoordig nie, maar hoop dat hierdie skrywe nietemin konstruktief sal bydra tot sinvolle gesprekvoering. In ’n opvolgskrywel lê ek graag ’n paar hopelik verbeeldingryke idees vir oorweging voor.
(Brandon Hammond is ’n Namibiese taalnavorser en onderwyskundige. Lesers kan aan hom skryf by [email protected].)

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie