Geld wat krom is. . .
Issaskar Kapuka – As geld, motors en meisies al is wat ’n man in sy lewe soek om sy saai bestaan op te helder en daarvoor die diepste beproewing sal wil deurgaan, is ek verlore. Vir my is die tyd verby.
Om met die duurste en spoggerigste motor die strate in te vaar is elke man se droom, soos hulle sê die bankrot-windgatte. En die blitsperde is BMW’s, Jetta’s met 16 klep-enjins, Hyundai’s en natuurlik die Merc.
Ek wou nou die dag ’n nuwe kar aanskaf – die ander twee basiese dinge het ek al. Maar daar is nie rekening gehou met geld wat stom is nie. My ou skedonkie wil-wil die gees gee en moet dringend vervang word.
Die grootste skok het gekom toe ek begin uitkyk het vir ’n ryding en verskeie motorhandelaars besoek. Ek wou nie eintlik spoggerige of vinnige wiele aanskaf nie, net iets wat my van een punt na die ander sou bring en sonder daardie ewige, lastige teenspoed.
Ek ly in ’n mate aan die sogenaamde prysskok-siekte, het my vrou gesê terwyl ons deur al die modelle kyk. Ek is nie trots daarop nie, maar my vrou weier om inkopies saam met my te doen omdat ek meer na die prys van die artikel kyk as na die kwaliteit daarvan en daarby nog gewoonlik met die verkeerde en dikwels onbruikbare een uitstap.
Vroeër het ek op die harde manier geleer dat die kombuis vir my vrou bedoel is nadat ek met verskeie kooksessies omtrent al die kos verbrand het. Maar ook voel ek dat my verantwoordelikheid is om ons gesinsmotor te kies. Altans, voordat gelyke regte tussen man en vrou sy verskyning in wetsboeke gemaak het. Motorpryse het geweldig gestyg. Vir ’n salaristrekker is dit vandag bykans onmoontlik om ’n ryding aan te skaf of te besit.
Ek het in die jare geleer om mooi motors net te bewonder en nie te kan bekostig nie.
Stygende lewenskoste, inflasie en verskeie ander faktore is aan my verduidelik, maar niemand sê dat koste nie tred hou met salarisverhogings of vervoerkoste nie. ’n Man bly aan die verloorkant.
Maar omdat ek die afgelope paar jaar net skoroskoros gery het, wou ek my slag wys en ’n nuwe voertuig ry – of daar geld beskikbaar was of nie. Ek het nie veel vriende in die motorhandel nie, maar ek het verskeie nuwe en handelaars van gebruikte motors in die stad besoek. Totdat ek sienende blind in Windhoek se strate rondgedwaal het weens prysskokke en nog ’n droom laat vaar het. Los alles, het ek besluit.
“Window shopping” vir ’n nuwe motor het inderdaad ’n nagmerrie geword. Maak reg wat krom is, het ek besluit en ’n paar dollars op my ou “krokkie” bestee.
Eendag sal hy tot sy reg kom. En so met vier wiele of twee bene kom ek darem normaalweg steeds uit waar ek moet wees.
– 11 April 1996


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie